Mnr Alberton se skoene moet nog gevul word

In 'n kleurryke geskiedenis van 'n dorp wat goeie vooruitgang geniet het, staan Johann van der Merwe en die werk wat hy hier gedoen het, soos 'n paal bo water.

ALBERTON – Daar was groot name in die geskiedenis van Alberton – die wat hul eerste plase kom uitmeet en afgesteek het, die wat die eerste fabrieke opgerig het en die eerste winkels in die dorp se stofstrate oopgemaak het.

Maar daar is ook Johann van der Merwe wat as jongman sy intrek in Alberton geneem het en wat die vooruitgang van die dorp met rasse skrede laat voort spoed het. Hy is voorwaar ‘n man van insig en wysheid wanneer dit by vooruitbeplanning van die destydse Alberton Stadsraad gekom het, die man wat instrumenteel was in die bou van die Alberton Boulevard en die Ringpaaie en slegs een van drie wat die Vryheid van die Dorp geniet het met die toekenning van Ereburgerskap aan hom in 1990.

Terug in geskiedenis:

Johannes Frederik Martinus van der Merwe is op 13 Junie 1936 in Johannesburg gebore en voltooi sy skooljare aan Laerskool Orban in Westdene en Hoërskool Helpmekaar.

By Helpmekaar was hy ‘n kadette offisier met die rang van luitenant, ‘n prefek (leerlingraadslid) in die destydse standerd 9 en 10 (Graad 11 en 12). Hy blink nie net as leier uit nie, maar draf ook op die rugbyveld uit as eerstespanspeler vir twee jaar en met sy lengte tot sy voordeel, is hy die top hoogspring atleet vir drie jaar en interbondwenner.

In 1954 skryf hy in by Pretoria Normaal Kollege om onderwys te studeer, maar finansies laat hom slegs ‘n jaar se studie toe en hy is vandaar na die staatsdiens.

Familie en gesin:

In 1956 is hy met Manna le Roux in die eg verbind en twee dogters is uit hul huwelik gebore. Hy beskryf Manna as ‘n wonderlike vrou en moeder vir wie almal lief was en dat sy almal na haar aangetrek het met haar sonnige en liefdevolle geaardheid. Manna is in 1993 oorlede en word steeds gemis.

Hulle oudste dogter, Corlia, is getroud met ‘n Amerikaner, Don Olsen, en sy is ‘n Magistraat in die Kinderhof in Johannesburg. Anette is getroud met Stephan Mogridge en sy het vir 28 jaar by die Alberton REKORD gewerk. Uit hul huwelik is ook twee kleindogters vir Johann gebore. Die oudste, Cheree (31), werk by Holy Rosary Privaatskool in die sportafdeling en Bronwyn (25) is die moderedakteur van Woman & Home tydskrif.

Mylpale in Johann se lewe:

Johann begin sy loopbaan by die Klerksdorp Stadsraad in 1956 as Stadsraadklerk van Blankesake en vandaar skuif hy na Odendalsrus as Lokasiesuperintendent.

Op 24-jarige ouderdom begin hy in 1960 by die Alberton Stadsraad as Adjunk Direkteur van Blankesake – die jongste nog in die geskiedenis wat so pos beklee het.

Vandaar vat sy loopbaan hom na Nelspruit in 1965 waar hy Arbeidsbeampte vir Bonuskor was en terug na Alberton Stadsraad in 1967 as Adjunk Direkteur, gevolg deur die pos van Verkoopsbestuurder van Whitbread in 1969 en as Verkoopsbestuurder in Alberton in 1972. Met dié kom plant hy sy voete vierkantig in die dorp en begin ‘n suksesvolle loopbaan in die destydse Alberton Stadsraad, en ook eienaar en later bestuurder van die Alberton REKORD.

In 1974 begin hy die Alberton REKORD en verkoop dit ‘n jaar later aan Caxton wat hom behou as bestuurder – ‘n pos wat hy vir 20 jaar beklee het. Vele jong joernaliste is deur sy vingers en vir baie van hulle het hy soos ‘n tweede vaderfiguur geword. Hy word vandag steeds met liefde na verwys as Mnr Van onder die personeel van die REKORD en het selfs na sy aftrede by die koerant op gereelde basis ‘n weeklikse draai kom maak om te groet en te gesels.

Gedurende hierdie tyd dien hy steeds op die Alberton Stadsraad, waar hy in 1975 as Voorsitter van die Bestuurskomitee verkies is. In al die jare onder sy bestuur was die Alberton Stadsraad se boeke nooit in die rooi nie.

Die grootste eer wat iemand kan toeval, en ter erkenning vir sy wysheid waarmee hy Alberton na groter hoogtes gedryf het, is die Ereburgerskap van die Dorp wat in 1990 aan hom toegeken.

As raadsamptenaar het hy groot insette gelewer met die stigting van die “rykmans woonbuurt” Meyersdal. Die eerste uitbreiding van Meyersdal se strate is ook vernoem na hooggeplaaste raadsamptenare in Alberton se geskiedenis, waaronder ook ‘n Johann van der Merwestraat.

In hierdie jare dien hy op verskeie kommitees, waaronder die volgende: President van Transvaal Munisipale Vereniging vir twee jaar, President van die Munisipale Werknemers Organisasie vir 15 jaar en President van die Nywerheidsraad.

Ander liggame waarop hy gedien het, is: Nasionale Mannekragkommissie, Nasionale Koördinerende Opleidingskommitee as voorsitter, Munisipale Werknemersorganisasie as voorsitter, Federasie van Munisipale Wernemers as president, dagbestuur van die Transvaalse Munisipale Vereniging, die Verenigide Munisipale Bestuur, die Nywerheidsraad vir die Plaaslike Owerheidsonderneming as voorsitter, die Nasionale Opleidingsraad en die Raad van Koördinering van Plaaslike Bestuursaangeleenthede, die Johannesburg Metropolitaanse Vervoeradviesraad, nege plaaslike sportklubs as president, en die bestuursrade van drie hoërskole.

Dit moet genoem word dat hy in hierdie tyd op 90 komitees gedien het en dat hy deel was van die stigting van die Unie Hospitaal met Barney Herwitz as eienaar wat die hospitaal later aan Netcare verkoop het.

Liefde vir bejaardes en kinders:

Johann was die stigterslid van die Alberton Tuiste vir Bejaardes en het daar ook vir jare op die tuiste se raad, sowel as die Alberton Raad vir Bejaardes gedien. Gemeenskapsdiens lê hom baie na aan die hart en in sy jare as bestuurder van, wat vandag bekend staan as die Caxton Johannesburg Suid kantoor, wat destyds net die Alberton REKORD en Southern COURIER koerante ingesluit het, het hy twee welsynsfondse gestig.

Die Southern COURIER Children’s Fund het spesifiek gefokus op die welsyn van kinders en die Alberton RECORD Upliftment Fund op die welsyn van bejaardes. Met die verloop van tyd het die twee fondse derduisende rande aan welsyn in die gemeenskappe van die koerante se verspreidingsgebiede geskenk. Vandag het die twee fondse saamgesmelt in een fonds en die koerante, wat nou ‘n derde koerant, die Comaro CHRONICLE, asook ‘n tydskrif, Get It Joburg South insluit, dien steeds die gemeenskappe in die verspreidingsgebied van die koerante en die tydskrif.

‘n Onlangse skenking van R100 000 is aan die Alberton Tuiste vir Bejaardes met die tuiste se 40ste verjaardag gemaak as blyk van waardering vir die werk wat Johann van der Merwe vir die Bejaardes in Alberton gedoen het.

Rustiger jare:

Albertonners het in 1993 met ‘n groot skok verneem dat Johann in die hospitaal opgeneem na ‘n massiewe beroerte. Hy moes daarna noodgedwonge sy verpligtinge afskaal, maar was tot en met aftrede by die koerante betrokke.

As iemand wat ook ‘n fundamentele rol in die Alberton Raad vir Bejaardes gespeel het, en hom beywer het vir die oprigting van die Alberton Aftree-Oord, is dit dan ook daar waar Johann tans tuis is.

Geliefd in die gemeenskap en ‘n man wat diep spore, nie net in die dorp nie, maar ook in werknemers se harte getrap het, is daar voorwaar net twee name vir hom: “Ons Meneer Van” of “Meneer Alberton”.

In ‘n kleurryke geskiedenis van ‘n dorp wat goeie vooruitgang geniet het, staan Johann van der Merwe en die werk wat hy hier gedoen het, soos ‘n paal bo water. ‘n Man wat hom beywer het vir die groei van ‘n gemeenskap en dorp, ‘n man wie se skoene nog gevul moet word.

Exit mobile version