Klipkoppiefees: hier is die syfers

Klipkoppiefees 2014 is die grootste fees nog en die syfers verstom.

ALBERTON – Enigeen wat die Klipkoppiefees bygewoon het, weet dat dit ‘n sukses was. Die grootste een nog, maar nou is daar syfers om dit te bewys.

Klipkoppiefees is een van die grooste 4×4 byeenkomste in die land. In totaal was daar 310 voertuie wat ingeskyf het in verskillende 4×4 roetes en kompetisies. Die grootste persentasie van die 4×4’s (173 deelnemers) het hierdie jaar aan die 4×4 skattejag van Francois Rossouw deelgeneem.

Tussen 16 000 en 17 000 mense het deur die hekke gestroom. Tussen 3 500 tot 4 000 mense was Saterdagaand by die Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld konsert. Hierdie enorme getalle maak vanjaar se fees die grootste tot dusver.

Groot uitstallers het die jaar verdubbel, 25 groot uitstallers van motorhandelaars tot buitelewe-uitstallers en 77 klein uitstallers het gespog met hul produkte.

Daar was 21 kosstalle wat seker gemaak het dat almal heerlik kon eet. Besoekers het gesmul aan pannekoek; 800 liter pannekoekdeeg se pannekoeke was gemaak en verkoop.

Een honderd en twintig fietse het aan Leeuwenhof se bergfietsroete deelgeneem, en 150 atlete was deel van die CMR pretloop.

Dankie aan almal wat saam kom ry, speel, eet en sing het, sonder elke leser en besoeker sou hierdie jaar se Klipkoppiefees nie so groot sukses kon wees nie, en sou ons nie so groot impak in ons gemeenskap kon maak nie.

Onthou dat al die geld wat met die fees gemaak is weer terug in ons gemeenskap geploeg word, veral in ons Ligstad-projek. Volgende jaar doen ons dit alles weer.

Related Articles

Back to top button