Klipkoppiefees gaan die aarde laat dreun

Besoekers kan verwag dat Snotkop, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld hulle behoorlik in die regte luim gaan kry.

ALBERTON – Klipkoppiefees 2014 is slegs ‘n paar weke weg en inwoners moet hulle regmaak vir die een enkele grootste musiek- en buitelug gebeurtenis in Alberton wat jy nie mag misloop nie.

Met gaskunstenaars wat die voete aan die jeuk en die lywe aan die wikkel gaan kry, 4×4 roetes, hope te eet en drink en honderde uitstallers is daar net een plek waar jy op die naweek van 30 en 31 Mei wil wees – die Klipkoppiefeesterrein op Meyerplaas, Alberton.

In 1999 het die fees sy klein begin in die vorm van ‘n familiedag by die Albertondam gehad, waar slegs 18 voertuie aan die 4×4 roete deelgeneem het. Vandag het dit gegroei tot die mees besproke fees in die omgewing op die sosiale kalender.

Die fees was die inisiatief van die NG Kerk Alberton-Wes, met een doel voor oë: om fondse in te samel vir die gemeenskap se minder bevoorregtes. Hierdie gemeenskappe sluit in Alberton en gebiede rondom Alberton tot so ver as die tweejaarlikse uitreik na Malawi.

Vandag, 15 jaar later, word die fees op die Meyerplaas gehou en die fees word gekenmerk deur die ongekende groei wat dit ervaar het, van ‘n klein gesinsdag tot ‘n groot tradisionele kerkbasaartipe fees wat oor twee dae strek – ‘n fees wat hierdie tyd van die jaar almal aan die gons het.

Met 14 000 mense wat verlede jaar deur die hekke van die fees gegaan het, het die organiseerders hulself gereed gemaak vir ‘n groter opkoms vanjaar.

Die fees skop af op Vrydag, 30 Mei en feesgangers kan deur verskeie stalletjies drentel en na hartelus koop, hulle kan in die biertent saam met vriende en familie kuier, iets eet en net die voete opsit en ontspan.

Saterdag 31 Mei kan jy verwag dat Snotkop, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld jou behoorlik in die regte luim gaan kry.

Die fees is gebaseer op twee soorte aktiwiteite – binnenshuis en buitelug. Binnenshuis (in verskeie markee-tente) sluit in hoë-profiel kunstenaars wat hul werke uitstal, ‘n Idols-tipe talentsoektog vir hoër- en laerskoolleerders, ‘n teetuin, ‘n varsproduktemark, ‘n verskeidenheid van kosstalletjies en ‘n tent spesiaal vir die kleingoed propvol prettige vermaaklikheidsaktiwiteite.

Dan is daar ook die Klipkraal (‘n watergat vir volwassenes) met grootskerm TV’s.

Buitelugaktiwiteit sluit in die 4×4 skattejag, 4×4 roete vir die brawes wat dinge tot die uiterste wil beproef, en die normale 4×4 uitdagingsroete. Vir die ouens wat karmal is, is daar uitstallers van nuwe en gebruikte voertuie. D

iegene wat die buitelug ten volle wil geniet, het nie nodig om ver te soek nie, want hier kry jy enigiets onder die son wanneer dit kom by kamp – of dit nou in ‘n tent of karavaan is.

Moet ook nie die vlooimark, die jongklomp se aktiwiteitsentrum, skyfskiet, bergfietsren en die pretloop wat deur die CMR aangebied word, vergeet nie.Vanjaar sal die grootste gedeelte van fondse wat ingesamel word aan Ligstad, ‘n gemeenskapsentrum in Alberton wat deur die kerk geadministreer en onderhou word, geskenk word.

Ligstad se dienste sluit in:

* ‘n naskoolsentrum vir ongeveer 50 kinders

* bejaardesorg

* ‘n voedingsprogram in die vorm van klaar voorbereide voedsel en kospakkies

* berading

* verspreiding van klere waar nodig

* lofprysing

* onderhoud van ‘n groentetuin tot ondersteuning van die voedingsprogram.

Ander organisasies wat baat vind by die fondse wat deur die Klipkoppiefees gegenereer word, is:

* Jan Louw Huis by Abraham Kriel Kinderhuis in die vorm van klere, skoolbenodigdhede en skryfbehoeftes, kos en toiletware, asook funksies vir die kinders gedurende Paasfees en Kersfees.

* Alberton Tuiste vir bejaardes word ondersteun met die skenking van beddens, beddegoed, volwasse doeke en gordyne.

* Die Malawi uitreik onder die leiding van sendeling Annemarie de Klerk. Hierdie projek het al ‘n klein skooltjie en twee stoorkamers vir die skool laat opgaan. Die verf en algemene onderhoud van die school is deur die fees befonds, en daar is ook hulp verleen met die vestiging van ‘n kleuterskool en die vertoning van die “Jesus-film”, besoeke aan 10 ander skole in die omgewing en die verspreiding van bybels.

* In Alberton en omliggende gebiede is bybels in al 11 amptelike landstale versprei.

Kaartjies teen slegs R120 per persoon is beskikbaar by die NG Kerk Alberton-Wes. Kontak Deona 011 869 0001 tussen 09:00 en 13:00.

Hou hierdie spasie dop vir meer inligting oor die fees.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button