AGENT 2000 – Die Laksman

‘n Spioen-film vir kinders, aangedryf deur kinders.

 

THE FILM FACTORY

in samewerking met

BZOOT PRODUKSIES

bied aan

‘n Stefan Nieuwoudt film

 

MET

Paul Loots

Izél Bezuidenhout

Ruan Wessels

Janic Botha

David James

Karen Wessels

Shaleen Surtie-Richards

Amalia Uys

Melissa Massyn

 

Agent 2000  is ‘n aksiebelaaide avontuur wat vermaak vir jonk en oud sal bied.  As ‘n eerste van sy soort in Suid-Afrika, beskik die rolprent oor buitengewone en ongewone visuele effekte, ‘n uitmuntende klankbaan en ‘n sterbelaaide rolverdeling wat kykers sal laat lag, huil en verlief word. 

 

“James Bond” is ‘n bekende naam in byna enige huishouding.  Almal bewonder dié geheime agent vir sy skerpsinnige werk teen die bekamping van misdaad.  En dan is daar natuurlik “Sherlock Holmes” – die speurder wat sonder veel moeite leidrade uitsnuffel en enige misdaad kan oplos.

 

Walter du Toit, ook bekend as Agent 2000, is ‘n ongewone kombinasie van albei hierdie bekende karakters.  Hy is skerp, innoverend, mis nie ‘n enkele leidraad nie en is boonop die coolste 14-jarige Afrikaner wat nog bestaan het.

 

Dis ‘n nuwe skooljaar vir die Graad Aggies van Hoërskool Randburg, maar dit word vinnig duidelik dat die matrieks, puisies en ontgroening die minste van hulle probleme is.  Die berugte skoolboelie, Die Laksman, is daarop uit om hulle te teister.  Die voorsitter van die beheerliggaam, Doktor Naudé, dring daarop aan dat die skoolhoof, Mnr. Von Brakel, die onsmaaklike saak voor die einde van die groentjiekonsert oplos, of die skoolhoof is sy pos kwyt.  Mnr. Von Brakel is moedeloos, maar sy assistent, Mnr. Vermaak, kom gou tot sy (oënskynlike) redding wanneer hy op die webwerf van ‘n belowende jong speurder afkom: Agent 2000.

 

Agent 2000, oftewel Walter du Toit, is ‘n 14-jarige knaap wat aan geheime agent 007 herinner.  Hy is slinks, hy is skerp en hy is beslis ongelooflik cool.  Daar is nie sprake van skool tydens die voltooiing van al sy missies nie, en daarom verkies hy tuisonderrig.  Buitendien, ‘n jong speurder het nie tyd vir huiswerk of vriende nie en Walter verkies veel eerder om met nuwe tegnologiese uitvindsels te eksperimenteer.  Wanneer hy egter gevra word om Die Laksman vas te trek, kom Walter voor ‘n nuwe uitdaging te staan: publieke skool.  Vas oortuig dat hy Die Laksman binne die eerste dag gaan ‘ontmasker’, vermom hy homself as ‘n bleeksiel en durf hy sy eerste dag by Hoërskool Randburg vol selfvertroue aan.

 

Die Laksman is egter meer uitgeslape as wat Walter besef het en tot sy jonger sussies, Li’Miri en Madelie, se groot vermaak word hy verplig om terug te keer skool toe.  Aanvanklik voel dit asof hy nie juis vordering maak met die soektog na Die Laksman nie, en boonop word hy deur die ander Graad Agts geboelie en deur die matrieks verneder.  Dit is nie die tipe behandeling waaraan die cool Walter du Toit gewoond is nie…

 

Ten spyte van al die druk wat Walter by die skool ervaar, begin hy dit tog geniet geniet om te gaan – veel meer as wat hy bereid is om te erken.  Hy vorm ‘n hegte vriendskap met die koddige Balie en die blonde Chante-Amoré laat sy oë blink.  Met die ondersteuning van sy nuwe vriende kom hy tog nader daaraan om Die Laksman te ontmasker.  Wanneer hy egter bewysstukke by Die Laksman se huis probeer kry, vind ‘n onaangename gebeurtenis plaas wat amper sy hele missie in die wiele ry.  ‘n Taak wat aanvanklik na kinderspeletjies gelyk het, ontaard gou in ‘n nagmerrie.

 

Is Walter se identiteit as geheime agent daarmee heen en is hy in die proses ook sy beste vriend en die meisie van sy drome kwyt?

 

Gaan Wwwalter du Toit uiteindelik Die Laksman se grootste teiken wees, of het Agent 2000 nog ‘n laaste troefkaart in sy stryd teen Die Laksman?

 

Storie Agter Die Storie

 

“Ek het vir Samuel en Hydie Loots tydens die verfilming van Roepman ontmoet en was werklik beïndruk met hul seun, Paul, se vermoë as akteur.  Ons het deurlopend kontak gehou en in 2012, op die stel van Verraaiers, het Hydie my vertel van ‘n draaiboek wat sy geskryf het.  Ek is bekend met die kwaliteit van haar skryfwerk en dit, tesame met my ondervinding van Paul se professionele loopbaan, het my dadelik laat besluit om die geleentheid aan te gryp om die prokjek te vervaardig.

 

Dit het ‘n jaar geneem om die draaiboek te ontwikkel en ons het reeds vroeg met die rolverdeling begin.  Ons was baie gelukkig om akteurs soos Shaleen Surtie-Richards, Amalia Uys, Karen Wessels en David James aan boord te kry.  Ons was ook oorweldig deur die hoeveelheid talent van die kinderakteurs.  Almal wat betrokke was, was sterre op stel – veral Izél Bezuidenhout in die rol van Chante-Amoré.  Sy en Paul Loots, wat die titelrol vertolk, vorm saam ‘n gedugte span op die skerm.

 

Die produksiefase was wonderlik.  Ons was bevoorreg om by Hoërskool Randburg te kon skiet waar almal uiters tegemoetkomend was.

 

Ek is baie opgewonde oor die vooruitsigte van Agent 2000.  Die jong Afrikaanse mark is een wat dikwels afgeskeep word in die vermaaklikheidsbedryf.  Ek glo dat die film aan hulle iets bied wat nie net hope pret is nie, maar dat die rolprent ook ‘n storie met ‘n sterk boodskap is. Die film is innoverend omdat dit gebruik maak van ‘n groot verskeidenheid visuele effekte en Benjamin Willem, wat die klankbaan behartig het, het ‘n interessante kombinasie van klassieke spioen-musiek en dubstep gekomponeer.

 

Stefan Nieuwoudt, die regisseur van die film, het beslis sy beste werk tot dusver gelewer ten spyte van die feit dat dit die eerste keer was wat hy saam met soveel kinders moes werk.

Agent 2000 gaan jou op die punt van jou stoel laat sit terwyl Walter du Toit die Laksman probeer vastrek.”

– Danie Bester, Vervaardiger –

 

Uit Die Pen Van Die Regisseur

 

“Ek stap nou al ‘n geruime tyd ‘n pad saam met The Film Factory en dit was nog elke keer net ‘n vreugde om saam met hulle te werk.

 

In Januarie 2012, het Henk Pretorius my gevra om ‘n voorlegging te doen vir die regie van Bakgat! 3 en ek was baie ywerig om die geleentheid aan te gryp.  Ek het niemand by The Film Factory geken toe die eerste Bakgat!-fliek vrygestel is nie, maar was baie beïndruk met die feit dat mense van my ouderdom dit reggekry het om ‘n film te maak wat so suksesvol was.  Intussen het ek die Film Factory-familie leer ken deur die ‘Agter Die Skerms’-beeldmateriaal vir Bakgat! 2 te doen en daarna het ek die geleentheid gekry om die regie van Superhelde en Bakgat! 3 te behartig.

 

Toe ek Hydie Loots se draaiboek, Agent 2000, lees, het ek onmiddellik daarvan gehou.  Dis ‘n kreatiewe storie wat gerig is op ‘n teikenmark wat grootliks afgeskeep word in ons industrie. Gedurende 2013 het ek die geleentheid gekry om saam met Hydie verder aan die draaiboek te skaaf en dit was ‘n ongelooflike ervaring om ook my insette te kon lewer.

 

Tydens produksie was dit vir my ‘n nuwe uitdaging om saam met soveel kinders te werk.  Dit was verfrissend omdat jong akteurs ‘n nuwe tipe energie stel toe bring.  Elke liewe jong mens wat saam met ons gewerk het, het uitstekende spel gelewer en die gevestigde akteurs, soos Shaleen Surtie-Richards, het die kinders met groot liefde onder hulle vlerk geneem en hul soveel as moontlik ondersteun.

 

Die redigeringsfase van die proses was ook interessant omdat ons in staat was om met soveel visuele effekte te werk en ek is baie tevrede met die eindresultaat.  Ek hoop hierdie is die begin van nog vele avontuurfilms vir die jongmense in ons land.”

– Stefan Nieuwoudt, Regisseur –

 

Rolverdeling

 

Paul Loots as Walter du Toit

 

Paul (15) is op 6 Julie 1998 in Centurion gebore.  Hy is tans ‘n Graad 10-leerling aan die Hoërskool Eldoraigne.

 

Vanaf vierjarige ouderdom ontvang hy opleiding in drama en blink van ‘n vroee ouderdom in kunswedstryde uit.  Tydens die Suid-Afrikaanse Talentkompetisie in 2010 word hy gekies om Suid-Afrika in Orlando in die VSA te verteenwoordig.  Daar word hy as een van die Top 4 Kinderakteurs gedurende die AMTC Convention aangewys.  In dieselfde jaar, ontvang hy ‘n erepenning van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging vir besondere bydrae op kultuurgebied.

 

In 2009, as 10-jarige begin Paul se professionele loopbaan toe hy die hoofrol in die teaterproduksie Balkie vertolk het.  Daarna volg nog ‘n hoofrol in SMS: Babakoors! in 2012.

 

Paul maak sy rolprentdebuut in 2011 as Timus in Roepman en in 2012 vertolk hy die rol van Karel Jnr in Verraaiers.  Op die kassie, speel hy die rol van Hannes in die kykNET-reeks Thomas@.  Hy verskyn ook as gasspeler op RSG se radiodrama Ratels in die rol van Tekkies.

 

Paul is versot op tegnologie en verslind die Popular Mechanics-tydskrifte.  Hy neem deel aan landloop, karate en hip hop om fiks te bly.  Sy motto is ‘Glo altyd’.

 

Karakter: Walter du Toit (AGENT 2000)

 

 

Walter is ‘n 14-jarige geheime agent wat deur sy pa opgelei word.  Hy is ‘n tegnologiese genie en glo rekenaars is die beste uitvindsel ooit. Hy bou sy eie ‘gadgets’ wat hy vir sy missies as agent gebruik.  Hy gaan tuis skool omdat hy as agent nie tyd het om skool te gaan nie. Walter glo nie in vriendskap nie en dink meisies is net ‘n mors van tyd en geld.

 

Izél Bezuidenhout as Chante-Amoré

 

Izél (15) is gebore op 25 November 1998 en is tans in Graad 10 in Hoërskool Eldoraigne.  Op skool blink sy veral uit uit in redenaars.

Izél het op vierjarige ouderdom begin met drama- en ballet-opleiding; en het ses jaar se ondervindng in moderne dans. en het van kleinsaf ‘n groot passie vir die verhoog.  Sy het al verskeie trofeë by die Pretoriase Eisteddfod en Centurion Kunstefees gewen, en tree ook op in ballet-uitvoerings in die Staatsteater en Klein Teater in Pretoria.

 

In 2012 het sy ‘n ‘somerskool’ by die Royal Academy of Dance in Londen bygewoon.  Izél het in 2007 ‘n dramakursus by Brümilda van Rensburg voltooi, asook ‘n kursus in 2013 in toneelspel wat deur die akteurs Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger aangebied word.

 

Haar professionele toneelspelloopbaan het in 2009 begin toe sy as 10-jarige ‘n hoofrol in die teaterproduksie Balkie vertolk het wat by die Innibos Kunstefees, Volksblad Kunstefees en die Pierneef Teater opgevoer is.  In 2012 het sy ook ‘n hoofrol gehad in SMS: Babakoors! wat in die Atterbury Teater in Pretoria en die Vryfees in Bloemfontein op die planke gebring is.

in Agent 2000 is Izél se eerste rol in ‘n film.

Die geleentheid was vir ‘n ongelooflike ervaring en gevolglik is toneelspel nou nog ‘n groter passie en droom vir die toekoms.

 

Karakter: Chante-Amoré

 

 

Chante-Amoré een van die ‘cool’ meisies in Graad 8, maar sy ag haarself nie belangriker as kinders wat nie deel vorm van hierdie groep nie. Sy maak tyd vir elke individu wat haar pad kruis en gee diep om vir ander mense. Sy is ‘n baie lojale vriendin en staan op vir dit waarin sy glo.

 

Ruan Wessels as Remardo

 

Ruan (16) is op 26 Augustus 1997 gebore. Hy het aan die Laerskool Horison skoolgegaan, waar hy ook hoofseun was.  Hy is tans ‘n Gaard-11 leerder by Hoërskool Noordheuwel waar hy sedert Graad 8 ‘n lid van die Vise Leerlingraad is.  Hy het sy loopbaan as akteur in 2008 begin en was gelukkig om sonder enige drama-opleiding sy voete in die industrie te vind.

 

Hy het sedert 2008 in verskeie televisie-advertensies en reekse verskyn en het selfs al radio- en animasiewerk gedoen.  In 2010 het hy sy rolprentdebuut in die film Roepman gemaak. Ruan verskyn in 2011 as Morné in die reeks Binnelanders en het onlangs sy kontrak vir ‘n vierde jaar hernieu.  In 2012 het hy die hartebreker in die rolprent Hoofmeisie gespeel.

 

Ruan speel graag dromme en is ook ‘n kranige skaatsplankryer.

 

Karakter: Remardo

 

 

Remardo is een van die ‘cool’ seuns in Graad 8.  Die meisies val oor hulle voete om sy aandag te trek.  Hy is hans teenoor die onderwysers en ‘n regte wysneus. Hy is egter sjarmant, en weens sy sjarme kom hy weg met menige stoutighede.

 

Janic Botha as Balie

 

Janic (14) is op 22 April 1999 in Kaapstad gebore.  Hy neem sedert Graad 1 jaarliks aan die Kaapse Eisteddfod deel en het deur die jare baie toekennings in onderskeie afdelings ontvang.  Hy is van kleins af lief vir sport en musiek en blink uit as rugbyspeler, swemmer en atleet.  Op 12-jarige ouderdom het hy sy junior swart belt in karate gekry en in Graad 7 is hy gekies as leerlingsraadslid van die Laerskool Jan Van Riebeeck.

 

Sy professionele loopbaan het in 2012 begin toe hy die rol van Dawie in die KykNET-reeks Thomas@ vertolk het.  Janic het intussen Erekleure in Kultuur verwerf aan die Hoërskool Jan Van Riebeeck waar hy tans ‘n leerder is.

 

Hy ry graag fiets en skaatsplank en spandeer ure in die see saam met sy vriende.

 

Karakter: Balie

 

 

Balie is redelik koddig, maar het ‘n hart van goud.  Hy is ‘n baie lojale vriend.  Alhoewel hy saggeaard is, laat hy toe dat mense misbruik van hom maak nie.  Hy verdedig homself teen boelies en is ook bereid om te veg om sy vriende te beskerm.  Hy is fluks en mededeelsaam.

 

David James as Roelof du Toit

 

David James is ‘n veteraan in die vermaaklikheidsbedryf.  Hoewel teater sy groot liefde is, vertolk hy ook gereeld rolle in sepies, TV-reekse en films.

 

Hy is veral bekend vir sy rolle in Isidingo, Binnelanders, Donkerland en Rhythm City waarin hy die antagonis, Hermanus Meyer, speel.  In 2006 het hy die rol van Kobus Venter in die Oscar-benoemde wetenskapfiksie-rolprent, District 9, en het gevolglik internasionale roem verwerf.

 

David was onlangs te sien in die plaaslike rolprente Ordinary People en Babalas en vertolk ook ‘n rol in die nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfilm, Pad na Jou Hart.  Hy is binnekort op die groot skerm te sien as ‘n vreesaanjaende bendeleier in die internasionale film Northmen wat aan die einde van 2014 uitgereik word.

 

Karakter: Roelof du Toit

 

 

Roelof is Walter se pa en werk vir geheime intelligensiedienste.  Hy is knap, sportief en uiters gesteld daarop om reg en geregtigheid te laat geskied.  Hy en Walter kom baie goed oor die weg en is na aan mekaar.  Ten spyte van sy gevaarlike werk, stel Roelof sy gesin altyd eerste.  Hy is baie lief vir hulle en sal hul ten alle koste beskerm.

 

Karen Wessels as Alet du Toit

 

As sanger en aktrise van formaat, is Karen Wessels heeltemal op haar gemak op die verhoog en voor die kamera.  Sy is sedert 2005 ‘n lid van die Suid-Afrikaanse acapella groep, Cut Glass, en het in 2007 haar debuutalbum, Hoe Durf Jy? uitgereik.

 

Sy verskyn gereeld op die kassie en is veral bekend vir haar rol in Hester en Ester Bester, asook Casper de Vries se reekse Haak en Steek en die Casper Rasper Show.  Sy het ook al haar verskyning gemaak in die TV-reekse Song vir Katryn, Erfsondes en die suksesvolle kykNET-produksie Donkerland.  In 2009 het sy haar eie eenvrou-komedie Groet die Grotvrou op die planke gebring.

 

Karen is nie ‘n vreemdeling in filmteaters nie.  Sy het al in rolprente soos Hoofmeisie en Wolwedans in die Skemer verskyn.

 

Karakter: Alet du Toit

 

Alet is Walter se ma. Sy leef vir haar gesin se welsyn. Dit is vir haar belangrik om gebalanseerde kinders groot te maak en daarom is sy bekommerd oor Walter se isolasie. Sy is dikwels oorbeskermend, maar gun haar kinders tog die geleentheid om hulself uit te leef.

 

Shaleen Surtie-Richards as Juffrou Schutte

 

Shaleen Surtie-Richards is ‘n veteraan-aktrise wat eintlik geen bekendstelling nodig het nie. Sy is sedert 1984 ‘n professionele aktrise en het deur die jare op al die vername verhoë in Suid-Afrika, Londen en Edinburgh verskyn.

 

In 1988 het sy tot groot lof die rol van Fiela in Katinka Heyns se Fiela se Kind vertolk en het sedertdien in die films Nag van die Negentiende, Mama Jack, Susanna van Biljon en Jimmy in Pienk verkeie rolle vertolk.  Sy is bekend vir televisereekse soos Egoli – Plek van Goud, 7de Laan, Generations en Villa Rosa.

 

Shaleen het al meer as 43 toekennings vir haar werk ontvang.

 

Karakter: Juffrou Schutte

Juffrou Schutte is Walter se voog-onderwyseres.  Sy is moederlik en van die begin af het sy ‘n sagte plek vir Walter.  Sy veroorsaak jaarliks ‘n groot opskudding met haar uitstekende groentjiekonserte.

 

Amalia Uys as Juffrou Kieswetter

Amalia het haar graad in BA Drama aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en kort daarna is sy die rol van Sanmari van Graan in die gewilde sepie, 7de Laan aangebied.  In 2013 het sy die Laan vaarwel geroep en is sy deesdae weer terug op die verhoog, wat eintlik haar groot passie is.

 

In 2012 het sy die karakter Ruth in Harold Pinter se toneelstuk The Homecoming vertolk en in 2013 is sy te sien as Bettie in My Vrou se Man se Lyk se Tas. Sy het haar filmdebuut in 2013 in die romatiese komedie Klein Karoo gemaak.

 

Amalia hoop om eendag terug te kyk na haar loopbaan en te weet dat sy haar passie ten volle uitgeleef het, en dat sy uitgeblink het in elke geleentheid wat in hierdie industrie na haar kant toe gekom het.

 

Karakter: Juffrou Kieswetter

 

 

Juffrou Kieswetter is die oulike wiskunde-onderwyseres. Met haar vietse lyfie, sukkel die seuns om in die klas te konsentreer…

 

8. Produksiespan

 

VERVAARDIGER: Danie Bester

 

Danie Bester het oor die afgelope ses jaar 16 vollengte films vervaardig en word deur baie mense beskou as ’n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

 

Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi.  Daarna het hy BCom Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook ’n bekende platejoggie op Radio Tuks (TuksFM) was.

 

Hy het in 2002 sy honneursgraad (cum laude) aan AFDA in Rolprent Medium verwerf.  Tydens sy finale jaar het hy verskeie toekennings ontvang en is aangewys as Beste Skrywer, Beste Regisseur en Beste Vervaardiger.

 

Danie was die vervaardiger van Ouma se Slim Kind, Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die buitelandse filmkategorie van 2008 se Oscar-toekennings.  Hy het ook pryse ontvang vir die kortfilm Skitterwit (M-Net New Directions), Die Gevoelsorgaan (AFDA) en Cameraboy (M-Net Edit), waarvan hy die vervaardiging, regie en skryfwerk behartig het.

 

Aan die begin van 2007 was Danie een van twee vervaardigers wat deur die Nasionale Film en Videostigting (NFVF) gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Rotterdam Lab – ’n program wat jong vervaardigers van regoor die wêreld die kans bied om besigheidsverbintenisse te vorm.

 

Hy was ook een van drie plaaslike filmmakers wat Suid-Afrika by die Berlin Talent Campus (BTC) verteenwoordig het.  Die BTC is ’n program wat tydens die Berlynse Filmfees aangebied word.  Danie is ook ’n gegradueerde van die hoogs-aangeskrewe Trans Atlantic Partnership – ’n ko-produksie-inisiatief tussen Europa, Kanada en die VSA. In 2011 het hy die Mr Video-toekenning gewen as die vervaardiger wat die grootste bydraes tot die plaaslike film-industrie gelewer het.

 

Danie was betrokke by die vervaardiging van meer as 100 advertensies en musiekvideo’s. Maatskappye waarvoor hy al gewerk het, sluit in Nike UK, Sony USA, Czar Belgium, Happiness Brussels en SAB.  Hy het ook die regie en vervaardiging behartig van musiekvideo’s vir kunstenaars soos Jesse Clegg, Karen Zoid, Mandoza, Tumi and the Volume en die jazz-legendes, Sipho Gumede en Pops Mohammed.

 

Bakgat! was die eerste Afrikaanse tienerkomedie en die sukses daarvan het gelei tot die vervaardiging van Bakgat! 2 en Bakgat! 3.  Danie het ook as vervaardiger opgetree vir Superhelde, Ek Joke Net, Night Drive en Roepman, wat die eerste Afrikaanse vollengte-film was wat in teaters in die VSA vrygestel is.

 

Ander films, wat onder sy leiding as vervaardiger, groot sukses by die loket behaal het, was Hoofmeisie en Wolwedans in die Skemer, asook die rolprent Verraaiers wat groot lof ontvang het en die onlangse Musiek vir die Agtergrond.  Films wat in 2014 deur The Film Factory vrygestel word, sluit in Pad na jou Hart, die sbujwa-dansfilm Hear Me Move en die poetsbak-film, Ek Joke Net 2.

 

Danie verskuif stelselmatig sy fokus na internasionale ko-produksies, fasiliteite en die ontwikkeling van plaaslike produksies wat internasionaal vrygestel kan word.

 

The Film Factory is in 2004 deur Danie gestig en is een van die mees produktiewe vollengte-film produksiehuise in Suid-Afrika.  Die maatskappy ontwikkel, bevonds en vervaardig vollengte films in ’n diens-, ko-produksie- en produksiekapasiteit.  The Film Factory is ’n voorloper in die filmbedryf en word beskou as ’n pioniersentrum vir vernuwing en uitnemendheid.

 

MEDE-VERVAARDIGER EN REDIGEERDER:  Dries Scholtz

 

As die seun van die bekende filmmaker, André Scholtz, het Dries grootgeword in ’n omgewing waar kameras, draaiboeke en ligte aan die orde van die dag was.  Vanaf ’n jong ouderdom het hy geweet dat hy in sy pa se voetspore wou volg.

 

In 2005 het hy betrokke geraak in die industrie as produksie-assistent op die televisiereeks Dryfsand.  Hy het sommer vinnig vir homself naam begin maak en het op verskeie reekse die rol van eenheidsbestuurder beklee.  Hy het ook gou in die film-industrie begin werk aan films soos Mr Bones 2, Bakgat! 2 en District 9.

 

Nadat hy verskeie suksesvolle projekte voltooi het, het Dries besluit dat die geleentheid hom voorgedoen het om meer kreatief te raak en het hy by The Film Factory se sustermaatskapy, Fix Post Productions, aangeklop.  Hy het daarna as assisstent-redigeerder aan Wolwedans in die Skemer, Hoofmeisie en Bakgat! 2 gewerk.

 

Dries se volgende stap was om saam met sy vennoot, Danie Bester, die rol van vervaardiger aan te neem en was gevolglik die vervaardiger van Ek Joke Net 1 en Ek Joke Net 2.  Hy was ook die lynvervaardiger en na-produksie toesighouer van die nuwe romantiese avontuurfilm Pad Na Jou Hart wat in Februarie 2014 in teaters vrygestel word.

 

Intussen het Dries sy eie maatskappy, Dagdroom Produksies, begin.

 

REGISSEUR: Stefan Nieuwoudt

 

Stefan is van nature ’n reisiger.  Nadat hy in 2001 in Dubai gematrikuleer het, het hy regdeur die wêreld gereis en het hy selfs in Griekeland as ’n bootverkoopsman gewerk – waar hy nie een toeris met rus gelaat het nie.

 

Vanaf 2002 tot 2005 het hy sy BTech-graad in regie aan die Motion Picture Academy van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) voltooi.  Gedurende sy studies was hy die skrywer en regisseur van verskeie kortfilms en het hy talle toekennings vir sy werk ontvang, onder meer die TUT-prys vir beste kinematografie vir die kortfilm Bloedrooi.

 

Hy het ook toekennings ontvang vir die musiekvideo wat hy vir die orkes Tidal Waves se lied Money gemaak het, naamlik die prys vir die beste musiekvideo by die MPA 2004, asook die beste reggae video-toekenning by die Channel O African Music Video Awards in 2005.

 

In 2006 het hy by die produksiemaatskappy Urban Brew Studios begin werk as kinematograaf, regisseur en redigeerder van invoegsels vir kinder-, realiteits- en reisprogramme.  Hy was ook die vervaardiger van ’n lewendige ateljeeprogram.

 

Stefan was in 2008 die skrywer en regisseur van ’n kort komedie met die titel Fight, wat deel was van The Crazy, Fight, Beast, Song.  Dit was ’n gesamentlike projek van 24 minute wat Stefan en drie ander studente van TUT self befonds en vervaardig het.

 

Stefan het in 2010 aan vollengte films begin werk toe hy die film Superhelde se regie onder leiding van die vervaardiger Danie Bester, behartig het.  In 2011 en 2012 onderskeidelik, het hy weer saam met The Film Factory gewerk as regisseur van Ek Joke Net 1 en Ek Joke Net 2.

 

DRAAIBOEK:  Hydie Loots

 

Hydie Loots is reeds 20 jaar in die vermaaklikheidsbedryf en fokus veral op die afrigting van kinderakteurs.

 

Hydie het in 1987 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer.  Daarna het sy haar BA(HOD) aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf met Afrikaans-Nederlands en Spraak-en-Vertolkingskunde as hoofvakke.  Hydie ontvang in 1991 die Beste Onderwysstudent-toekenning tydens die gradeplegtigheid.

 

Sy skop haar loopbaan af by Hoërskool Wonderboom in Pretoria waar sy as onderwyseres die regie van hul ATKV Tienertoneel behartig.

 

In 1994 het Hydie haar eie dramaskool, Ateljee Estetika, in Centurion gestig.  Sy spesialiseer in die afrigting van kinders vir kunswedstryde, redenaarskompetisies en verhoogproduksies. Hydie het in 2004 die beroemde Marcel Marceau se Open Doors Week in Frankryk bygewoon.  Daarna het sy die kursus, Alphabet du Mime Poetique in Parys, Frankryk, voltooi. In 2011 het sy ook opgetree as kindertoneelafrigter vir die Suid-Afrikaanse span wat in Orlando in die VSA aan die AMTC Convention deelgeneem het.

 

Hydie beoordeel ook redenaarskompetisies en kunswedstryde.

 

Die skrywersgogga het Hydie al as kind gebyt.  Na skool het sy talle teaterproduksies vir skole en die gemeenskap geskryf.  In 2009 het sy Martie Preller se Die Balkieboek in ‘n toneelteks omskep.  Balkie as kinderproduksie, waarvan Hydie self die regie en vervaardiging behartig het, het in 2010 gelei tot uitverkoopte produksies by die Innibos Kunstefees in Nelspruit en die Volksblad Kunstefeest in Bloemfontein.  In 2012 het sy die skreeusnaakse jeugproduksie SMS: Babakoors! geskryf en die regie daarvan behartig.  Die produksie is by die Vryfees in Bloemfontein en die Atterbury-teater in Pretoria op die planke gebring.

 

Sy het ook as aktrise in albei produksies verskyn.

 

Agent 2000 is Hydie se eerste draaiboek onder die bekwame leiding van Danie Bester.

 

KINEMATOGRAAF:  Gerrit van Zyl

 

Gerrit het in 2004 sy graad (cum laude) aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf en sedertdien werk hy voltyds in die industrie.  Hy het twee kinematografie-toekennings by die Washington DC Cine Awards ontvang vir kortformaat-projekte.

 

Hy het al op verskeie produksies in die kameradepartment gewerk, onder meer Bakgat! 3, Musiek vir die Agtergrond, Faan se Trein, Angel of the Skies, Ek Joke Net 1, Ordinary Lives en die internasionale rolprent, Chappie.

 

Hy het die kinematografie behartig van Ek Joke Net 2 en Karate Kallie.

 

PRODUKSIE ONTWERP:  Chris Joubert

 

Chris Joubert is die soort ontwerper wat ’n oog het vir dit wat nuut en vars is.  Met sy unieke aanslag tot enige projek was hy die regte persoon om die ‘high-tech’ ontwerp van Agent 2000 te behartig.

 

Hy het al in die kunsdepartemente van ‘n groot verskeideheid rolprente gewerk, en van sy hoogtepunte sluit in: Musiek vir die Agtergrond, Verraaiers, Wolwedans in die Skemer, Hoofmeisie, Bakgat! 3 en Ek Joke Net 2.

 

Hy het ook onlangs gewerk aan Stuur Groete aan Mannetjies Roux en Angel of the Skies.

 

KLANKBAAN:  Benjamin Willem

 

Benjamin het ’n graad in musiekkomposisie aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf en het die geleentheid gekry om opleiding te ontvang by van die grootste legendes in die industrie.  Daarna het hy sy studies aan AFDA voortgesit waar hy deel was van ‘n eksperimentele meestersgraad.

 

Sedertdien skryf hy musiek vir televisie en film. Hy het dit veral geniet om musiek vir die National Geographic-kanaal te komponeer en het die musiek van die ROSCAR-bekroonde The Last Lioness en die Caught in the Act-reeks geskryf.

 

Benjamin het ook al aan verskeie gewilde Afrikaanse films gewerk, onder meer die Bakgat!-trilogie, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom, Wolwedans in die Skemer, Hoofmeisie, Superhelde en die riller Night Drive.

 

Met die uitnemende werk wat hy tot dusver tydens sy loopbaan gelewer het, het hy homself as ’n veelsydige komponeerder gevestig.  Sy passie vir filmmusiek spoor hom aan om tydens elke projek sy vaardighede verder te verbeter.

 

AGENT 2000 open in teaters landswyd op 28 Maart 2014.

 

Kontakbesonderhede

Film

Publisiteit:

Starburst Promosies / Alishia van Deventer – alishia@starburstmusic.co.za – 083 635 4717

Kantoor:

The Film Factory – Berdene du Toit – 011 782 2096

Sosiale Netwerke

Facebook:  https://www.facebook.com/www.agent2000.co.za

Twitter: @agent2000film

 

 

 

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version