Lifestyle

Smaaklike etes kookboek uit Albertonkontrei

Gedurende die feestyd is inkopiegangers begroet met ‘n reuse oes van keurige kookboeke.

ALBERTON – Die bekendste hiervan was 7de Laan vier fees, Tjailaresepte 2 deur Amore Bekker, Vuurwarm Jan Braai en nog talle meer waaronder Dine van Zyl se Groot Boerekosboek.

Min of meer dieselfde tyd is die mark getref deur ‘n treffer van ‘n lekkerlees-kookboek uit Albertonkontrei. Dit is saamgestel deur Mandie Kleinhans vir die plaaslike Elandtak van die SAJW (Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsereniging) met die titel Beproefte Watertand Wildsresepte.

Hierdie pragskepping is nie net ‘n kookboek nie. Wenke in en om die huis is ‘n noodsaaklikheid wat ingesluit is. Die boek bevat alles wat jy van kos en maaltye wil weet, maar spog ook met ‘n noodgeval-telefoonlys, vloeistofmates, noodhulpwenke, boererate, gesondheidswenke en selfs ‘n paar pragtige verwerkte gedigte uit die pen van Mandie Kleinhans en Sue Lombard. Dan het Chris Vorster benewens sy eie resepte ook sy goue reëls vir die jag van wild bygedra.

Kookkuns op sy beste word weerspieël in die verskillende koskategorieë, naamlik mengeldrankies, sop, vleisgeregte, wildsgeregte, groente, slaaie, kaasgeregte, nageregte en gebak/ongebakte koeke en terte.

Dr. Ben Heystek se spogresepte is ‘n moet om te beproef, terwyl fynproewers soos Mary-Ann Rebula, Dine Van Zyl, Rina Fourie-Supra, asook keurresepte van o.a. Babsie van Oudtshoorn, Sue van Zyl, Tommy Masuret, Ma San van Niekerkhoop in die Karoo, Carnie Weston, Soekie Burger en vele meer, hierdie ‘n eenstop-resepteboek vir elke kombuis maak. Selfs resepte van bekendes soos Rocco de Villiers en Jamie (The Naked Chef) Oliver kan uitprobeer word.

Voorwaar ‘n pronkstuk hier reg uit Albertonkontrei om Alberton se naam op die kaart te plaas.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button