Ories netbalspan derde in Suid-Afrika

Laerskool Orion loop behoorlik oor van trots na die aankondiging dat Ories se o12A-netbalspan algeheel derde in Suid-Afrika is.

Dié span het beslis die netbalseisoen op ’n hoë noot afgesluit met hul derde plek by die Suid-Afrikaanse Skole Nasionale (SASN) Kampioenskappe.

“Ons is ongelooflik trots op ons dogters. Die seisoen het afgeskop met die Sportisimo netbaltoernooi wat gedurende die Maart vakansie by Mutango Lodge plaasgevind het,” het die hoofafrigter Louani van Rensburg verduidelik

“Ons dogters het in hierdie toernooi tweede geëindig nadat hulle in die finaal, in ekstra tyd teen Laerskool Wierdapark verloor het.”

Gedurende die liga het die span met ’n doel teen Laerskool Impala verloor.

Tydens die Gautenguitspele wat by Hoërskool Randburg plaasgevind het, het die span ‘n vyfde plek in Gauteng behaal wat hulle die geleentheid gebied het om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem. Hulle was die enigste o12-span in die distrik wat hierdie prestasie behaal het.

Toegewydheid, saamstaan, saamwerk en doelgerigtheid was die resep agter hierdie sukses.

Die span het hul poelwedstryde gewen en daarna in die eerste uitspeelwedstryd hulself bevind tussen die eerste agt spanne in die land. Met die kwarteindrondtes het hul hulself onder die top vier spanne ingespeel.

Hulle het in die semi-finaal met twee doele teen Laerskool Wierdapark verloor. In die finaal het hulle Laerskool Constantiapark geklop en ’n brons medalje verower.

Van Rensburg beskryf die wenresep vir die pragtige prestasie as, “Positiewe ouers, positiewe hardwerkende spelers en toegewyde en entoesiastiese afrigters. Louani van Rensburg (hoofafrigter) met haar hulp Marli Rance se harde werk kon nie beter beloon word nie.”

Exit mobile version