Ranties se eerste span kraai koning by die Super 12 krieket

Laerskool Randhart reken af met van die sterkste skole om as wenners uit die stryd te tree.

Tydens die afgelope vakansie het Laerskool Randhart se eerste krieketspan dit reggekry om die uiters moeilike Super 12-krieketkompetisie in Rustenburg te wen.

Die Super 12 bestaan uit 20 sterk skole uit Pretoria, Rustenburg, Potchefstroom, Pietersburg, Kempton Park en Alberton.

Randhart het in hulle eerste vier poelwedstryde met onder andere Kruinsig, Mooirivier, Saamtrek en Van Riebeeckpark afgereken.

Hulle wen die halffinaal teen Laerskool Orion met vier paaltjies, waarna hulle die finaal teen Elarduspark van Pretoria met sewe paaltjies wen.

Dit is slegs die tweede keer in die skool se geskiedenis dat die eerste span die Super 12 wen.

Tatum Kers was een van die toernooi uitblinkers. Hy het altesaam 18 paaltjies in die toernooi laat kantel.

Liam Breedt was die beste kolwer met ‘n gemiddeld van 38 lopies oor die ses wedstryde.

Die skool wens die seuns en hul afrigters geluk met hierdie prestasie.

Exit mobile version