Sport

Allie-afrigters ’n manskap om mee rekening te hou

Allies se rugby eerstespan afrigters is besig om vir ’n belowende jaar van rugby voor te berei.

Hoërskool Alberton het twee formidabele afrigters wat as ’n span beplan om die beste vir die skool se rugby eerstespan op te dis. Marcus Pretorius rig die voorspelers af en Eugene Myburgh die agterspelers.

Die RECORD het by die twee gaan aansluit terwyl hulle voorberei vir wat beloof om ’n goeie seisoen vir Allie-rugby te wees.

’n Wen kombinasie

Pretorius het in 2012 by Hoërskool Alberton as o-15-aftrigter aangesluit.

In 2013, terwyl Myburgh die o-16’s afgerig het, het hy en Pretorius saam begin werk en vandaar het ’n afrigtersspan ontstaan.

Pretorius beskryf die basis van hul vennootskap as wedersydse respek.

“Ek het nog nooit vir Eugene as ’n jong man, skaars uit matriek uit, beskou nie.

“Ek aanvaar hom as ’n gelyke en sien sy insette in dieselfde lig.

“Hy was ’n talentevolle losskakel en dit was duidelik dat hy agterlyn-spel goed verstaan het.

“As een van ons met ’n nuwe idee opkom dan toets ons dit uit. As dit nie werk nie probeer ons iets anders,” het Pretorius gesê.

Toekennings as afrigtersspan

In 2014 het Pretorius en Freek Erasmus die eerstespan afgerig en hulle het as oorwinnaars uit die NWU Super 16 toernooi getree.

Die jaar daarna het Pretorius die o-15-span afgerig wat tot die finaal van die Goue Leeus-Liga gevorder het.

Myburgh het saam met hom gewerk en dié twee het nog nie weer terug gekyk nie.

“In 2016 het ons die o-14-span tot Goue Leeus-kampioene gelei. Hulle was ook tweede in die NWU Super 16 en in die kwarteind van die Beeldtrofee,” het Myburgh gesê.

Dieselfde span was in 2017, as 0-15-span, weer in die Goue Leeus-Liga en wen die NWU Super 16 en is weer in die kwarteind van die Beeldtrofee.

In 2018 het hulle die liga en die NWU Super 16 gewen en die semi-finaal van die Virseker Beker gehaal.

Verlede jaar was die span in die final van die Goue Leeus Liga en in die kwart-eind van die Virseker Beker.

Beste spelers

Wanneer hulle gevra word oor die beste spelers wat hul al afgerig het, of vir Allies sou wou afrig, kom die antwoorde sonder huiwer.

“Sonder om bevooroordeeld te wees, my broer Francois,” het Myburgh gesê.

“Hy is ’n ongelooflike talentvolle losskakel wat al in Italië gespeel het. Hy speel tans vir die Valke as deel van die Curriebeker samestelling.

“Dan is daar Shaun du Toit, verlede jaar se skrumskakel. Hy is talentvol en ’n plesier om af te rig.

“So ook ons huidige senter, Damien Rudman en as ek nog twee kan byvoeg, Jonathan Potgieter en Caltino Jones.”

Pretorius beskryf Allies se nommer sewe, en soms nommer agt speler, Sheldon Mickingly, as een van sy bestes.

“Hy is ’n ongelooflike speler wat hard werk en betrokke in die spel wil wees.

“Tydens ons wedstryd teen Dinamika in 2019 het ons beserings gehad en hy het toe selfs op vleuel gespeel en homself goed van sy taak gekwyt.

“Bradley Odendaal het in 2014 vir my as flank gespeel en in 2015 was dit Francois Beukes op slot.

“Ek kan nie nalaat om Eddie Lessing te noem nie. Hy het altyd 100 persent gegee en jy kon op hom staatmaak.

“Dan is daar Zirk Engelbrecht wat as eerstespan-kaptein, op nommer 8 gespeel het toe ons die NWU Super 16-titel in 2012 gewen het.

“Ek sou hom graag wou afrig, maar het ongelukkig nooit die geleentheid gehad nie.

“So ook Sheldon Joubert wat in 2013 eerstespan flank was. Dit sou wonderlik gewees het om hom te kon afrig,” het Pretorius gesê.

Deur dik en dun

As afrigters is hulle al deur dik en dun saam met hul spanne, met goeie en moeilike wedstryde agter die rug.

Die 2018 Virseker Beker semi-finaal teen Hoërskool Piet Retief is ’n wedstryd wat hulle bybly.

Hulle is dit eens dat hulle ’n groot wedstryd gehad het en dat daardie wedstryd die samekoms van drie jaar se harde werk was.

Hulle beskryf dit as ’n wedstryd waar die span hul harte op die veld gelos het, en wat by hulle as afrigters groot respek vir elke speler afgedwing het.

“Die verdediging, agterlynspel en aanvalle was uit die boonste rakke,” het Pretorius gesê.

Beide Pretorius en Myburgh glo dat hulle nie kon bereik wat hulle het sonder die aanmoediging en ondersteuning van Freek Erasmus nie.

“Hy is stil, maar so uit die agtergrond het hy ons baie geleer.

“Freek het ’n ongelooflike kennis van die spel en is altyd bereid om te deel en ons te mentor. Hy was vir ’n aantal jare betrokke by die eerstespan en is toegewyd,” het hulle gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button