Allies haal welverdiende derde plek

Afrigters is trots op hulle span.

HOËRSKOOL Alberton het vanjaar aan die UJ Coke-rugbyreeks deelgeneem. Die reeks bestaan uit Noord van die Vaal skole en dis meer en deels makroskole wat aan hierdie reeks deelneem.

Hoërskool Alberton het algeheel derde geëindig in die reeks en is sodoende die eerste grootskool wat in die reeks se bestaan dit kon reg kry om te kwalifiseer vir die semi-finale en om algeheel derde te eindig.

Die reeks het afgeskop met die eerste wedstryd teen Hoërskool Florida waar Allies die halftyd telling laat staan het op 8-0 in Allies se guns. Maar die intensiteit en tempo van die makroskole het in die tweede helfte sy tol geëis toe Florida drie drieë gaan druk het teenoor Allies se een, en sodoende die 13-32 wen in Florida se sakkie gedruk het.

Allies het geleer uit hulle foute en het met die tweede wedstryd van die reeks teen Hoërskool Klerksdorp dit duidelik gemaak toe hulle vir Klerksdorp 13-0 geklop het. Die derde en finale poelwedstryd teen Hoërskool Kemptonpark was maak of breek vir Allies, en hulle moes met ’n bonuspunt en ’n punteverskil van meer as 20 wen, om deur te dring na die semi-finaal.

Alberton het beslis baie geleer deur die reeks en het duidelik aangepas by die tempo en intensiteit waarmee daar teen die makroskole gespeel word en dit het Allies bewys in hulle laaste poelwedstryd waar hulle teen alle verwagtinge ’n briljante wedstryd gespeel het om Kemptonpark 49-21 die loef af te steek om hul plek in die semi-finaal te beklink.

Die tafel was gedek vir ’n sappige derby in die semi-finaal waar Allies teen Hoërskool Marais Viljoen te staan gekom het. Dit was egter nie Allies se dag gewees nie en Marais Viljoen het deur puik verdediging die Allies beperk tot net een drie in die wedstryd. Marais Viljoen het ook uitgeblink met bal in hand en het vyf keer agter die Allies se doellyn gaan kuier wat die eindtelling laat staan het op 40-5 in Marais Viljoen se guns.

Allies se afrigters, Zak Aucamp en Freek Erasmus het gesê dat dit ’n welverdiende wen was vir Marais Viljoen, en dat die span ook meer as genoeg geleenthede in die wedstryd geskep het om ’n oorwinning te behaal. “Rugby gaan ook oor geleenthede en Marais Viljoen het die beste van hulle geleenthede gebruik gemaak,” het hulle gesê.

In die finale wedstryd van die reeks het Alberton weer teen Hoërskool Florida te staan gekom wat spog met ses Goue Leeus provinsiale spelers in hulle geledere. In dié wedstryd het die skole vir die derde en vierde plek uitgespeel en dit het gedien as bewys van die aanpassing van die Allies en die verbetering van hul spel toe hulle vir Florida behoorlik pakslae gegee het. Allies het met ’n 29-13 wen weggestap.

“Ons is uiters trots op ons span se prestasie tydens die reeks en sien verskriklik uit na die 2017 rugbyseisoen,” het die afrigters gesê.

Exit mobile version