Local sportSport

SA hekkies-atleet: Armouré le Roux wys staal teen beste

Armouré le Roux, het vanjaar haar doelwit gevestig om onder die voorste atlete in die item te eindig.

DIE Junior Wêreld Atletiekkampioenskappe is vinnig besig om nader te kruip en een van die voorste junior hekkiesatlete in die land kan nie wag om haar talent teen die beste te meet nie.

Armouré le Roux, wat onder die vaandel van die Universiteit van Johannesburg se klub hardloop, het vanjaar haar doelwit gevestig om onder die voorste atlete in die item te eindig.

“Ek wil graag met ‘n medalje van die junior kampioenskappe terugkeer, of net my persoonlike beste tyd verbeter,” het die 18-jarige matriekleerling van die Hoërskool Marias Viljoen te kenne gegee.

“My doel is ook om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem.”

Sy het nie net vir die Konfederasie van Afrika Atletiek se Suidelike Streek byeenkoms wat in Lusaka, Zambia, op 17 en 18 Junie sal plaasvind gekwalifiseer nie, maar sal ook aan die Junior Wêreld Atletiekkampioenskappe in Bydgoszcz, Pole, van 19 tot 26 Julie deelneem.

Die Sentraal Gauteng atleet het verlede jaar Suid-Afrika se Jeugspan in Mauritius en in Columbia verteenwoordig. Vanjaar neem sy as junior atleet – o.20 – deel.

Haar kwalifiserende tye, wat sy behaal het om aan die junior kampioenskappe deel te neem, was in 400m (54.68) en in die 400m hekkies – 60 (1.00). Sy sal ook aan die 400m en 4 x 400 aflos deelneem.

In 2015 het Suid-Afrika se jeugspan ‘n silwer medalje losgehardloop en sy was lid van die span gewees.

Armouré het haar atletiekloopbaan reeds in graad een begin, toe sy die Victrix Ludorum ontvang het.

Op hoërskool is sy hierdie jaar die senior victrix ludorum, meisies naelloper van die jaar, meisies hekkies atleet van die jaar, atleet van die jaar en meisies atleet van die jaar.

Sy is lid van die Groter Albertonspan, en neem aan die Gauteng Kampioenskappe, Sentraal Gauteng, Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe, Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskappe en Suid-Afrikaanse Seniorkampioenskappe deel.

Sy word tans deur haar pa, Hennie le Roux, afgerig.

Hoewel sy aan die UJ Atletiekklub behoort, oefen sy nog nie daar nie. Sy sal graag volgende jaar wil studier, maar by watter universiteit weet sy nie.

Op hierdie stadium oefen sy voluit om die eerste hekkie oor te kom – die KAA se Suidelike Streek Kampioenskappe – en daar onder die voorstes te eindig.

Related Articles

Back to top button