Leeus oorskadu Blues in Super Rugby

Emirates Leeus staan nou op 32 punte.

DIE Leeus het sy oorwinning teen die Nieu-Seelandse span, die Blues, met 43-5 beklink tydens die Vodacom Super Rugby wedstryd wat Saterdag 14 Mei op Emirates Airline Park plaasgevind het.

“Dit is jammer dat dit gereën het, want albei spanne hou daarvan om die bal wyd te speel,” het Emirates Leeus se afrigter, Johan Ackermann gesê. “Maar ek dink ons het, afgesien van die omstandighede, ons goed van ons taak gekwyt.”

Nie dat die deurdringende reën die span van Johannesburg enigsins in enige fasette van sy spel gepla het nie.

“Die seer van om voor ons tuisskare twee weke gelede te verloor was nog by ons,” het Warren Whiteley, kaptein van die Emirates Leeus voor die wedstryd gesê.

Met hierdie soete oorwinning van die Leeus het die span na die eerste plek op die Afrika Konferensie geklim en is nou een punt voor die DHL Stormers.

Lionel Mapoe het ’n driekuns behaal met die Leeus wat sewe drieë gedruk het om sodoende ook ’n bonuspunt met die oorwinning in te samel. Die Leeus het altesaam vyf punte verkry en DHL Stormers, wat ’n gelykop telling (17 elk) teen die Sunwolves in Singapoer kon afdwing, het slegs twee gekry.

Emirates Leeus staan nou op 32 punte.

Cell C Sharks het later die aand ’n naelbyt 25-22 oorwinning teen die Jaguares in Buenos Aires behaal.

In Bloemfontein het Toyota Cheetahs die Southern Kings met 34-20 op hul tuisveld geklop.

Vodacom Bulls het die onderspit gedelf teen die Waratahs en met 31-8 verloor. Hulle is nou in die vierde posisie op die algehele Afrika Konferensie.

Die ander uitslae is:

Vrydag 13 Mei

Highlanders 34 Crusaders 26.

Saterdag 14 Mei

Hurricanes 29 Reds 14; en

Rebels 22 Brumbies 30.

Exit mobile version