Hurricanes sit die Leeus ore aan

Die Emirates Leeus verloor hul derde Super Rugby wedstryd.

DAT die Emirates Leeus op die dag weer eens deur ’n Nieu-Seelandse span, die Hurricanes, oorskadu is, moet miskien in die sin gesien word dat rugby in daai land op ’n ander vlak gespeel word.

Emirates Leeus het hul Vodacom Super Rugby wedstryd Saterdag 30 April teen die Hurricanes met 50-17 op hul tuisveld verloor. Dit is hul derde wedstryd in nege waartydens die Johannesburgse span die onderspit delf.

Die Leeus is nog steeds boaan die Afrika Konferensie 2 se punteleer met 27 punte na nege wedstryde in die tiende rondte. DHL Stormers is boaan Afrika Konferensie 1 se punteleer met 29 punte terwyl die Vodacom Bulls tweede is met 28 punte. Die Leeus beklee nou die derde posisie op die algehele punteleer in die Afrika Konferensie.

Die Hurricanes het die wedstryd op volle vaart begin en voor die Leeus hul oë uitgevee het, het die Nieu-Seelanders reeds drie verdoelde drieë in die eerste 20 minute behaal. Hulle het dit daarna opgevolg met nog twee. Die tuisspan se Akker van der Merwe het ’n drie gedruk om teen halftyd met ’n agterstand van 36-5 kleedkamers toe te gaan.

Die Hurricanes se drieë is deur Julian Savea, Matt Proctor, twee van Cory Jane en Reg Goodes gedruk.

In die tweede helfte het die Leeus moedig teruggeveg en Lionel Mapoe het oorgegaan vir sy drie. Elton Jantjies het die drie verdoel om die telling na 36-12 te skuif. Jaco Kriel het daarna sy bydrae gelewer en oorgegaan vir ’n welverdiende drie. Jantjies kon egter nie met dié doelskop slaag nie.

Daarna het die Hurricanes hul stempel op die wedstryd afgedruk en drieë deur Vince Aso en Savea se tweede drie, het die eindtelling na 50-17 opgeskuif.

Jantjies het sy regterknie tydens die wedstryd beseer en sal hopelik gereed wees vir die Leeus se volgende wedstryd tuis teen die Blues.

Malcolm Marx en Julian Redelinghuys is nog steeds op die krukkelys, maar hul herstelperiode vorder goed.

Die Leeus het eerskomende naweek ’n rus-rondte en sal weer op Saterdag 14 Mei speel.

Emirates Leeus – Drieë: Akker van der Merwe, Lionel Mapoe en Jaco Kriel. Doelskoppe: Elton Jantjies.

Hurricanes – Drieë: Julian Savea (2), Matt Proctor, Cory Jane (2), Reg Goodes en Vince Aso. Doelskoppe: Beauden Barrett (6). Strafskoppe: Barrett.

Super Rugby uitslae:

Jaguares 73 Southern Kings 27

DHL Stormers 30 Waratahs 32

Reds 30 Toyota Cheetahs 17

Western Force 20 Vodacom Bulls 42

Chiefs 24 Cell C Sharks 22

Highlanders 23 Brumbies 10

Blues 36 Rebels 30

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version