Speel en kuier op jukskeiveld

Jukskeispelers het na 'n lang dag van speel langs die braaivleisvuur ontspan en rugby gekyk.

Staan reg, mik met een oog toe – gooi!

Só het jukskeispelers hulle teiken, ‘n paaltjie in die grond, met hul skeie tydens ‘n sosiale byeenkoms by die Alberton Jukskeiklub meters ver probeer raakgooi.

Sowat 100 spelers, oud, jonk en selfs beginners, het hul slag op die proef gestel, om te sien watter generasie nou eintlik koning kraai.

WIK EN WEEG: Chandré Rheeder beplan voordat sy haar skei gaan gooi.

Volgens Antoinette Pretorius, van Sentraal Gauteng Jukskei, was die dag in werklikheid net ‘n manier om gesinne en vriende bymekaar te kry, sodat daar heerlik saam gekuier kon word.

“Na afloop van die dag het ons langs die braaivleisvuur gesit, gesels en rugby op die televisieskerms gekyk,” het sy vertel.

Sy het gesê dat die Alberton Jukskeiklub ook die tuiste van Sentraal Gauteng Jukskei is, wat vanjaar hulle 75se bestaansjaar vier.

HIER KOM DIT: Ben McKlopper is seker dat sy skeie vir hom en sy span die broodnodige punte gaan bring.

“Ons het tans vyf laerskole en amper 10 hoërskole in die Alberton en Germiston area wat jukskei as ‘n sport beoefen, maar die kinders kom van oral op die Oos-Rand om by die Albertonse Jukskeiklub te oefen,” het sy bygevoeg.

Daar is op dié stadium meer as 200 kinders op skolevlak by die klub gereigstreer, waarvan 53 kinders vir die Sentraal Gautengspan gekies is, wat binnekort kragte in die Suid-Afrikaanse Jukskeikompetisie in Kroonstad gaan meet.

Antoinette het gesê enigiemand kan by die klub aansluit.

REG VIR DIE SLAG: Eben Scholtz speel sommer vinnig klaar met sy skeie.

Ledegelde beloop R400 per jaar vir diegene wat ook aan toernooie wil deelneem, omdat dié gelde die toernooie insluit wat tydens die sportseisoen tussen Junie en April plaasvind.

Leerlinge se gelde beloop R160 per jaar en diegene wat net geselskap soek en sosiaal wil verkeer betaal slegs R50 om aan te sluit.

Vir meer inligting kontak Antoinette by 079 499 5545 of per epos by sgjukskei@gmail.com.

Verwante artikels:

• Orion se jukskeispan wen

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version