School sportSport

’n Dekade later is die Goue Leeus beker terug by President

Dit was ’n titaniese stryd tussen twee rugbyspanne van Johannesburg-Suid, maar net een skool kon die wentrofee vashou.

AUCKLAND PARK — Oomblikke voor die groot Goue Leeus kragmeting teen Alberton High School, het Monty Benadie, rugbyafrigter van Hoërskool President High in Ridgeway aan sy eerstespan rugbyspelers gesê, “die dag waarvoor ons so hard gewerk het, het aangebreek. Nou moet ons rekenskap gee”.

Op Saterdag, 25 Julie, by die UJ Milo Park in Auckland Park, het President se eerstes bewys wat in hulle steek met ’n rateltaai oorwinning van 19-5 in die Goue Leeus finaal.

GRYP VAS: Kyle Hawthorn van Hoërskool President High rokkel die bal van Alberton High School se Cameron Lake af in ’n betwiste lynstaan.
GRYP VAS: Kyle Hawthorn van Hoërskool President High rokkel die bal van Alberton High School se Cameron Lake af in ’n betwiste lynstaan.

Dit was reeds duidelik dat President al hul tyd en energie ten volle in die wedstryd gaan benut toe hulle reeds in die eerste vyf minute, bloed geruik het en oor die doellyn gegly het om eerste punte op die telbord aan te bring.

Vanaf die kantlyn was dit duidelik dat die onderskeie skole se ondersteuners dié wedstryd as belangrik ag en gevolglik het die gemoedere nie net op die veld nie, maar ook op die kantlyn hoog geloop.

Selfs die skeidsregter is ’n paar woorde toegesnou en keer-op-keer deur die toeskouers gevra of hy bevooroordeeld is.

DRIE GEDRUK: Juandré Maré, Hoërskool President High se kaptein, gly oor die drielyn om punte aan te teken terwyl Enrique Pepin van Alberton High School  te laat is om hom te keer.
DRIE GEDRUK: Juandré Maré, Hoërskool President High se kaptein, gly oor die drielyn om punte aan te teken terwyl Enrique Pepin van Alberton High School te laat is om hom te keer.

Ongeag die kantlyn drama het President in 80 minute daarin geslaag om drie drieë en twee doelskoppe in hulle puntesak te gooi terwyl Alberton slegs een keer die doellyn kon kruis en nie die pale een keer kon vind nie. Die teleurstelling kon duidelik op die Alberton span se gesigte gesien word.

Dit is die eerste keer in tien jaar wat President die titel verower het en die ondersteuners het al huppelend op die veld bymekaargekom om hul rugbyhelde omhoog te hou en geluk te wens.

GEEN WEGKOMKANS: Chesny Jafta van Hoërskool President High pak vir Cameron Lake van Alberton High School in die Goue Leeus finaal.
GEEN WEGKOMKANS: Chesny Jafta van Hoërskool President High pak vir Cameron Lake van Alberton High School in die Goue Leeus finaal.

“Dit is die wonderlikste gevoel om te weet dat dit waarvoor jy so hard gewerk het, jy eindelik reggekry het,” het Monty, wat reeds vir 28 jaar as rugbyafrigter dien, gesê.

“Daar was baie harde werk ingesit op en af van die veld. Die seuns het selfs in die vakansie kom oefen en hierdie wen het hulle beslis in ekstase, want dit is net nog ’n bewys dat ’n mens die vrugte van jou harde werk pluk.”

Monty het gesê sy seuns kan nog nie op hulle louere gaan rus nie, want die groot Beeld Trofee-wedstryde lê nog voor.

Related Articles

Back to top button