A-Square Forklift speel harte uit in tuiswedstryd

ALBERTON – In die eerste helfte, het die Raiders harde klippe gekou teen A-Square Forklift Alberton. Die tuisspan het die besoekers behoorlik die skrik op die lyf gejaag om met rustyd 18-17 voor te loop. Die staatmaker flank, Anthony Kapp, het oudergewoonte die drielyn oorgesteek en JZ de Jager was kort op sy hakke met …

ALBERTON – In die eerste helfte, het die Raiders harde klippe gekou teen A-Square Forklift Alberton. Die tuisspan het die besoekers behoorlik die skrik op die lyf gejaag om met rustyd 18-17 voor te loop. Die staatmaker flank, Anthony Kapp, het oudergewoonte die drielyn oorgesteek en JZ de Jager was kort op sy hakke met ’n opvolg drie. Onderkaptein Ryno Brits het een drie verdoel en twee strafdoele oorgekorrel.

Met 20 minute op die telbord oor, het die Raiders se damwal egter gebreek en met ses drieë in vyftien minute ’n demper op die tuisspan se spog vertoning geplaas.

Derek Jardine, voorsitter van die Raiders Rugby Club was egter in sy skik met die tuisspan se rugby. “Die weghol telling van 55-25 is nie ’n egte weerspieëling van die kragmeting tussen die twee spanne nie. Die A-Square Forklift Alberton span verdien om meer lof te ontvang na so ’n puik vertoning,” het Jardine gesê.

Alberton se driedrukker in die tweede helfte was skrumskakel Arnold Smit.

A-Square Forklift se o.19-span het ’n welverdiende oorwinning van 22-5 geniet. Die o.21-span het naelskraap verloor met ’n telling van 12-19, die derde span het ’n nederlaag van 19-45 gely en die tweede span kon nie hul teenstanders klop nie en het hul wedstryd 6-22 verloor.

Die A-Square Forklift Alberton Rugby Klub sal hul volgende tuiswedstryd, in die tweede rondte, aan die begin van Augustus speel teen WITS.

Exit mobile version