Alberton Rugby-oorsig

Alberton rugby het die nuwe seisoen op ‘n sprankelende wen-noot afgeskop deur in ‘n aandwedstryd skoonskip teen Germiston-Simmer te maak en met vier spanne 247 punte teen Germiston-Simmer se 20 opgestapel.

ALBERTON – Die eerstespan oorrompel hul buurklub met 43-10, die tweedes behaal ‘n weghol-oorwinning van 60-5, en die derdespan hardloop weg met 78-5. Alberton o.20 verpletter Germiston-Simmer met 66-0.

Steeds by senior rugby, was Alberton se naaste studentklubspan in die Varsitybekerreeks UJ, ná vyf rondes in die vierde plek op koers na die semi-finaal, maar hoë hekkies teen top drie spanne Tuks en Ikeys het op daardie stadium nog voorgelê.

Ondertussen is UJ met 0-34 deur Tukkies uitgeklop. Nog ‘n span in die moeilikheid is Alberton-ondersteuners se Goue Leeus wat in Super rugby teen Crusaders sy vierde neerlaag in vyf wedstryde gelei het. Hulle is op 4 April terug tuis op Emirates Airways Park in aksie teen die Bulle.

Op die Alberton skoletoneel gaan dit egter klopdisselboom, met Hoërskool Alberton en Dinamika wat hul tweede agtereenvolgende seges behaal het, Alberton wen sy wegwedstryd te Benoni met 25-5 teen Hans Moore in die NWU sportreeks, wat opgevolg is met ‘n tuiswedstryd teen Brits.

Dinamika wen sy Super-reeks kragmeting teen Jan Viljoen met 26-10. Alberton High kon nie sy sege oor Overvaal herhaal nie, en word met 3-45 deur Bekker in die Pukke Super 16 afgestof.

Exit mobile version