Local sportSport

Gordyn sak oor lang loopbaan

Een van die heel grootste draers van die nommer 10-trui in Suid-Afrikaanse rugby op alle vlakke het uitgetree.

ALBERTON – Hy is Alberton se eie Springbok-losskakel, wat nie weer in die nommer 10-trui in eersterangse rugby in aksie gesien sal word nie.

Na 31 toetse in die no.10 Pretorius-Springboktrui, houer van die Rugby Wêreldbeker in 2007, beste sewes speler van Suid-Afrika in 2001 en verskeie Cats, Goue Leeus en Springbok-rekords na 17 seisoene van eersterangse rugby agter sy naam, het André Pretorius nou die gordyn laat sak oor ‘n lang loopbaan van onvergeetlike goue rugbyjare.

Vir “Petoors no.10” soos hy in die pers genoem is, het alles vir hierdie Albertonner in murg en been begin met sy insluiting uit Hoërskool Dinamika se eerste span in die Cravenweek Transvaal XV in 1997.

Na ‘n suksesvolle tydperk as Goue Leeus o.21 speler in 1998 en 1999, SA o.23 SA Barbarians en top sewes speler tydens die sewes wêreldbeker in 2001, word hy Dinamika se eerste en tot nou enigste rugby-Springbok in 2002 teen Wallis in Bloemfontein.

Ses seisoene in die Springboktrui eindig met die verowering van die Wêreldbeker in 2007, waar hy op die veld was in die finaal in Parys, waar die Wêreldbeker omhoog gelig is. André was betrokke by vyf wedstryde in daardie wêreldbekertoernooi, waarvan tien punte met sy skoen teen Tonga in Lens was.

André beskou dit as die heel grootste hoogtepunt van sy roemryke rugbyloopbaan. Springbok-hoogtepunte was volop, waaronder sy vier skepdoele om Engeland met 25-14 op die rampspoedige toer van 2006 te kon klop.

“How will his winning penalty goal in the 77th minute against the All Blacks in Rustenburg ever be forgotten?” staan dit opgeteken in die moderne Springboksaga.

Benewens die feit dat hy steeds vandag een van die top drie Springbokke met die meeste skepdoele is, is hy die enigste Springbok om ooit op vier maniere punte teen die All Blacks kon aanteken, naamlik ‘n drie, doelskop, strafdoel en skepdoel en wel op 15 Augustus 2002 in Durban.

Tussenin sy skitterprestasies in die internasionale toetsarena, was hy die suksesvolste Cats super rugbyspeler, met talle rekords agter sy naam. Hieronder tel die meeste punte in ‘n super wedstryd 25, top puntemaker van alle tye 550, meeste punte met doelskoppe 78, meeste punte met strafskoppe 106 en meeste skepdoele sewe.

In ‘n onlangse profiel oor sy rugbyloopbaan is sy swaeltjie-drie teen die Crusaders in 2002 uitgesonder as een van die beste ooit. Hy het 1953 punte in 15 seisoene van eersterangse rugby aangeteken. Hierbenewens het hy ook die Western Force, Franse ligaspanne, Sharks en Luiperds verteenwoordig. Vir sy gunsteling provinsiale span, sy geliefde Goue Leeus, het hy op alle vlakke in die sleutelposisie van no.10 uitgedraf en was hy die puntekoning.

André Pretorius sal altyd onthou word as ‘n no.10 rugbylegende en is inderdaad reeds ‘n legende in Alberton. Selfs op sosiale media en e-pos kan hy opgespoor word onder Petoors10@gmail.com.

Wat hou die toekoms nou vir hierdie groot seun uit Alberton in? Hy rig vanjaar Patria van Pukke in die gewilde Varsitybeker-reeks af, vestig hom nou in Potchefstroom met sy pragtige vriendin Claudine aan sy sy, waar hy ook ander sakebelange behartig. Sy ma en familie is egter nog steeds Alberton-inwoners.

Al wat nou oorbly is om te sê: Totsiens André en dankie vir die goue herinneringe.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button