Sport

Blink toekoms wink vir AJ

Hierdie jong knaap gaan nog groot spore in Alberton se sportgeskiedenis trap ... hou hom gerus dop.

ALBERTON – ‘n Veeldsydige jong sportseun het sy aankoms in die sportarena aangekondig met ‘n rits prestasies wat ongekend vir ‘n 13-jarige knaap is.

Vreemd is dit dalk nie, want sy naam is “AJ” van Zyl, dieselfde naam as AJ van Zyl, top SA 400 meter hekkieskampioen en medaljewenner by vele internasionale spele en wêreldkampioenskappe. Dan lê dit nog alles ook in sy gene, want sy pa is die bekende plaaslike owerheidsbeampte boutegnies oor meer as vier dekades in Alberton, Nick van Zyl, wat ook ‘n ervare Proteahengelaar is.

AJ is vanaf 3 tot 6 Oktober in aksie by die Gauteng o.13 krieketfees by St Stithians en Trinity House, wat die bekroning is vir gevorderde krieketonderrig wat hy ontvang by die Rowlin National Cricket Academy in Boksburg. So verwerf hy dubbele streeksproviniale kleure, aangesien hy ook lid van die provinsiale hengelspan is.

Bo en behalwe al hierdie goue sportprestasies, skitter AJ ook in die klaskamer en as jong leier. Hy verwerf vir drie jaar agtereenvolgens akademiese kleure en handhaaf ‘n gemiddeld van 92 persent. Wiskunde is sy sterkpunt en hy verwerf die Kumon Wiskunde-instelling “Gold ASR”-toekenning, waarmee hy reeds vir sewe jaar in wiskunde uitblink. Maar nog is dit nie die einde nie, want hy skitter ook in die kunste met goud vir poësie 2013 en goud vir kuns 2012 by die Germiston Eisteddford.

Sy leierseienskappe kom na vore in die feit dat hy onderhoofseun van Laerskool President is en ook verkeerspatrollieleier by die skool is.

Hierdie oulike seun, op wie sy pa en sy ma Ansie met reg baie trots is, bewonder sy pa se werk as Beheerbeampte Tegniese en Bouwerk op bouterreine, en ‘n strukturele ingenieur is daarom sy beroepsdroom. Gemeet aan sy geniale wiskunde-aanleg is dit ‘n logiese stap. Sy liefde vir hengel kom ook van sy pa af, wat in 2010 SA Proteakaptein vir diepsee hengel in Portugal was.

AJ se ongeëwenaarde sportprestasies kan in drie kategorieë ingedeel word:

* Tennis: Eerstespan tennis vir sy laerskool.

* Hengel: Agt jaar gelede begin hy as vyfjarige saam met Pa Nick te hengel en na verskeie spanmedaljes en trofeë vir Sentraal Gauteng en die provinsie tot in 2012, maak hy sy groot deurbraak vanjaar. Danksy ‘n silwermedalje op die SA kampioenskappe vir Sentraal Gauteng A-span, hengel hy hom in die SA o.13 A-span van die Suid Afrikaanse Varswater Oewer Hengelfederasie in. Nou spog hy nes sy mentorpa met nasionale kleure.

* Krieket: Die krieketsport is AJ se groot skoolsport-liefde, en hy speel reeds vir twee seisoene vir die skool se eerstespan. Hy haal die Johannesburg o.13 span vanjaar vir die Gauteng o.13 skoleweek.

Voorwaar ‘n mondvol, wat net ‘n blink toekoms vir ‘n besonder veelsydige jong presteerder voorspel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button