Curriebekerreeks skop af

Die Curriebeker is steeds 123 jaar na die begin daarvan in 1891, die mees gesogte beker waarom meegeding word in ‘n stryd waarmee rugbyliefhebbers grootgeword het.

ALBERTON – Alberton was nog altyd indirek deel daarvan, hetsy as toeskouers, ondersteuners of spelers uit Alberton.

Met die afskop van vanjaar se Curriebekerreeks was die fokus uit ‘n Albertonse perspektief op die Albertonmanne in die reeks:

Derick Minnie: Weens die afwesigheid van André Pretorius en sy Luiperds in die reeks, is Derick Minnie van die Goue Leeus die mees ervare Albertonman in die Curriebekerkompetisie en lei hy van meet af aan die Albertontrop. ‘n Jaar gelede was Derick die groot uitblinker met ‘n pragdrie in die Leeutjies se reuse sege oor die Bulle. In vanjaar se openingswedstryd op Ellis Park was dit weer so, met die Goue Leeus se vermorseling van die Bulle met 41-13, en dit slegs twee dae na Derick op 7 Augustus pa geword het. Meer oor Derick: Hy is gebore op 29 Oktober 1986 in Alberton en sy pa, wyle Chris Minnie, was ‘n gesaghebbende afrigter by Albertonrugby en hy is getroud met die pragtige Ruanda.

Jaco Kriel: Noem Derick Minnie se naam en Jaco is altyd byderhand oral op die veld, uit die Goue Leeus se oorvloedige talent van losvoorspelers. Jaco se pragdrie, wat die finale doodskoot van die Bulle in die 41-13 sege gegee het, toon welke yster hierdie oud-Hoërskool Standerton speler, wat talle keer in die Alberton klubtrui uitgedraf het so drie seisoene gelede, werklik is. Meer oor Jaco: Aanskou sy eerste lewenslig op 21 Augustus 1989, staan 1.84 meter in sy sokkies en weeg 100 kg.

Willie Brits: Met sy sterk Albertonverbintenis, danksy sy oom Deon Potgieter en sy vrou Alta Potgieter, wat Willie se pa Boet se suster is, het Willie vanuit die Cheetas die Vaalrivier van die Cheetas af oorgesteek na die Goue Leeus. Van die 2014-seisoen af sal hy egter weer alomteenwoordig in die super rugby Cheeta-trui wees. Meer oor Willie: Sy geboortedatum is 31 August 1988, hy is 1.92 meter lank en is as die ware Maanhaarleeu met sy goue lokke onder Goue Leeus ondersteuners bekend en gewild, soveel so dat hy aangewys was as die ondersteuners se speler van die jaar 2013.

Lood de Jager: Lood is ‘n yster, nes sy naamgenoot en Alberton se yster van ‘n rugbyklubbestuurder die afgelope aantal jare, Lood Kleynhans. Lodewyk de Jager het met sy twee drieë vroeër die seisoen teen Skotland sy merk op die rugbytoneel duidelik gemaak. Meer oor Lodewyk de Jager: Lood is op 17 Desember 1992 in Alberton gebore, weeg ‘n hele 124 kg en is ‘n yslike 2.05 meter lank. Sy skoolopleiding was in Ekurhuleni in Springs en hy is ‘n Pukstudent.

Hou gerus hierdie vier manne as die trots van Alberton in die res van die Curriebekerprogram dop. Die drie Leeus draf op Saterdag 30 Augustus om 19:00 in week vier van die Curriebeker op die Nelson Mandela Stadion uit teen die OP Kings, terwyl Lood van 14:45 vroeër die dag in Kimberley teen die Griekwas in die Cheetatrui in aksie sal wees.

Exit mobile version