Die Grootboom het geval

Ek betuig my dank dat ek die voorreg gehad het om in die skadu van die Grootboom te kon vertoef vir 'n wyle.

Dit was met hartseer dat ek van die heengaan van ons leier Johann van der Merwe verneem het.

Dit het terselfdetyd ‘n gevoel van ongekende trots en waardering laat opwel oor die waardevolle lewe van ‘n man wat ook my kollega en vriend was.

Die berig oor sy lewe is indrukwekkend en waar – ongekend en sal nie nagedoen kan word nie.

Sy monumentale bydrae strek baie verder as net die ampte en leiersposisies wat hy met oorgawe, kredietwaardigheid en oortuiging beklee het.

Hy was inderdaad ‘n rots en skaduboom.

Johann was ‘n rolmodel vir baie en besonder vir my.

Hy het ‘n talent gehad om te lei en mense saam met hom te neem. Hy het ‘n innemende, onbaatsugtige geaardheid gehad en was ‘n formidabele opponent in ‘n debat en het talle aanslae vir Alberton en sy mense afgeweer.

Ons kan dit dalk vandag beter in konteks verstaan as ons die plaaslike owerheid onderleiding van Raadsheer van der Merwe in kontras plaas met die bedryf van plaaslike owerheid in die era na hom.

Bloeitydperk vir Alberton

Alberton het ‘n ongekende bloeityd beleef vir bykans twee dekades.

Die uitbreidings van Brackenhurst anderkant Swartkoppiesweg en talle meer. Onthou in 1967 was Randhart omtrent die residensiële grens en ‘ou’ Alberante die uitstalvenster.

Die Durbanpad het deur Alberton Noord geloop en Alrode was ‘n nywerheidsgebied in sy kinderskoene.

Waar was Alberton in 1993 met die tragiese beroerte van Johann van der Merwe?

Alberton was ‘n dorp met ‘n toekoms.

Pragtige CBD met ringpaaie en wandellaan, ‘n Burgersentrum sonder skuld, eerste Kinetiesesentrum vir sport, pragtige sportvelde en klubhuise, versorging vir bejaardes, skole van hoë standaard, godsdiensharmonie, kulturele kwaliteit, uitstekende infrastruktuur, openbare vervoer, hospitaal, woongebied soos Meyersdal wat deur die munisipaliteit beplan en ontwikkel is met winkelsentrums en puik restaurante.

Onthou die parke, straatbome, tuine en veiligheid …

Niemand voor Johann en niemand na Johann het met soveel toeweiding, selfopoffering en vrywillige tyd soveel vir die gemeenskap van Alberton en plaaslike owerheid op provinsiale en nasionale vlak vermag nie.

Hy het uitgestaan in ‘n tyd van sterk leiers.

Hy is gekies en gevolg deur sterk intelligente leiers op alle vlakke van die samelewing.

Hy was die gerespekteerde gesig van Alberton na buite vir bykans twee dekades en ‘n ambasadeur wat ons vaandel met waardigheid en trots gedra het.

Alberton was ‘n spoggerige dorp en erken as van die heel beste bestuurde plaaslike owerhede in Suid Afrika. Nie een omstrede oudit nie, geen korrupsie nie en ‘n amptenary van hoë kwaliteit en toewyding.

Ek raak hartseer en nostalgies by die terugroep van daardie jare.

Johann het ook ‘n groot bydrae gelewer met die totstandkoming van die Streeksdienste Raad wat onderskat word.

Dit was die begin van die transformasie strukture en die Heunismodel vir die wat dit nog onthou.

Johann was ‘n absolute pionier in die totstandkoming van Aarbeidsbedinging in Plaaslike Owerheid in Suid Afrika.

Die totstandkoming van die gemeenskap as werkgewer teenoor die vakbonde.

Die stigting van die Munisipale Werkgewersorganisasie (MWO) was geen geringe taak nie – dit het direk gelei tot SALGA vandag en die Bedingingsrade.

Ek was betrokke en het hierdie man se onblusbare visie en werksvermoë beleef.

Duisende kilometer op eie koste die land deurkruis en so het ons ure en ure se gesprekke in die “Jetta kantoor” gehad.

Wat ‘n onvervangbare voorreg.

So vir oulaas

Min weet van Johann se betrokkenheid by die SWA/Namibië se onderhandelings destyds en die sensitiewe aard daarvan in wat later bekend gestaan het as “Terracebaai Berade”.

Die gesprekke langs die strand met sy ronde kanonkoeëlklippe en die inkyk na ons eie land en wat gaan word, sal my altyd as ‘n kosbare kleinnood bybly.

Die Albertonse Groottrek 150 Fees in 1988 sou nie moontlik gewees het sonder die ruim steun van die Stadsraad nie.

Ek het die taak gehad as burgemeester om dit ‘n versoeningsfees in Alberton te maak in die spanningstyd tussen die NP en die KP.

Ons was sterk teen die partypolitieke inmenging in ons gemeenskapsake omdat dit tweespalt gebring het waar ons eensgesind was onder die Belastingbetalersvereniging.

Dit was juis die sukses van Alberton.

Ons kon onder andere die grootste saamtrek van Volkspelelaers sedert 1938 by die opening van die Monument in Pretoria, op die Alberton Stadion hou.

Johann se konstruktiewe invloed was so omvattend dat ongeag die partypolitiek, al die skole, kerke, sportklubs, kulturelele organisasies onder andere Rotariërs, Lions, Rapportryers, Noodhulpliga, Voortrekkers, Round Table en ander, eendragtig vir ‘n jaar lank deelgeneem het aan die fees en my taak as voortsitter so maklik gemaak het.

Dit was ‘n histories afskeidsgeskenk van ons ou vlag en dorpswapen.

Die sukses sou nie moontlik gewees het as die ethos van Alberton, wat Johann so in geglo en aan gewerk het, nie daar was nie.

Hy was immers die voorsitter van beheerrade van skole, van sportklubs, die Kommando en voorsitter van die Stadsraad se bestuurkomitee – demokraties verkies volgens konstitusies.

Ongelooflik maar waar.

So het ons in die jaar 1988 vir oulaas vrede en eensgesindheid op ‘n ongekende wyse ervaar.

Jy moes ligloop

Johann het ‘n fyn humorsin gehad en was ‘n ondeunde poetsbakker. Jy moes ligloop waar hy is!

Hy het ‘n besonder talent gehad vir beskrywende taal en ook verbaal baie skerp en behendig.

Hy was ‘n orator van formaat en kon gehore vasvang met sy entoesiastiese en inspirerende voordrag.

Hy kon ook mooi skryf.

Een ding wat my bybly is sy gewoonte om onder enstige vergaderings, of kongresse, altyd te sit en skryf maar nie notas nie … hy het gesit en dig en met rymelary alla Langenhoven, die interaksie van mense so vasgevang en lighartig gespot.

Ek het ‘n klompie van die kleinnode.

Hy het dan aan die einde van so ‘n byeenkoms die velletjie digkuns gegee aan iemand vir wie hy dit bedoel het.

Hy het nie oordrewe notas gemaak nie, maar ‘n voortreflike intelek en geheue gehad om die situasie te snap en leiding te neem om dit te hanteer – meesterlik.

Plat op die aarde

Johann was ‘n lojale mens.

Hy het n liefdevolle innigheid gehad vir sy gesin en sy vriende.

Hy was met sy voete plat op die aarde en nederig in sy omgang met mense.

Ferm en beslis in sy oortuiging en buigsaam om die beste oplossings na te streef.

Hy was altyd voorbereid en hy het niks aan die toeval oorgelaat nie.

Johann was destyds tot in die kleinste detail ingelig wat in die dorp aangaan en het ‘n gees van onderskeiding gehad om elke saak op meriete te hanteer.

Hy het baie klagtes en sake een-op-een besleg en waar armoede en verwaarlosing van kinders betrokke was, het hy sy netwerk in die dorp gehad wat onmiddelik kon hulp verleen.

Hy het inderdaad almal persoonlik op die naam geken.

My innige dank

Aan die einde van die paar persoonlike mededelings kan ek net my dank betuig dat ek die voorreg gehad het om in die skadu van die Grootboom te kon vertoef vir ‘n wyle.

Ons innige meegevoel aan die gesinne, familie, vriende en die gemeenskap van Alberton oor die heengaan van Johann.

Ons eer jou raadsheer.

Ons salueer jou kommedant.

Ons ag jou met liefde as vriend.

Soos Leipold dit uitdruk:

“Dit net ‘n handvol gruis en narrabos blare,

wat ons laat dink aan die wonderdae …

eers was ons arm maar vandag skatryk …” – Omdat ons jou kon ken, Johann.

Jou nagedagtenis leef voort.

Met innige wense,

Louw du Toit, raadslid en burgemeester van Alberton (1985- 1993)

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version