LettersOpinion

Wonderwerke gebeur nog

Ek is gereelde besoeker aan die REKORD se webwerf en die storie van die jong man, wat na 18 jaar met sy familie herenig is, is een van die stories wat my hartsnare geroer het, en ek glo ook dié van baie van ons dorp se mense.

Dit is voorwaar soos ‘n storieboek-storie. Ek het nogal vir my man gesê mens sien die goed net in ‘movies’ of lees daarvan in boeke. Die blote feit dat die kind deur sy ouma agtergelaat is, weens watter redes ook al, met die leuen van sy ouma moes saamleef dat sy familie uitgewis is, moes vir hom iets vreesliks wees om te verwerk.

Om dan, wonder bo wonder, en beslis deur ‘n Hoër Hand bepaal, letterlik van Alberton se strate af opgeraap te word om weer deel van ‘n gesin te wees, is niks anders as ‘n wonderwerk nie.

Daar is soveel dankbaarheid in my vir hierdie gesin! Dankbaarheid dat iemand die kloutjie by die oor gebring het, dat iemand die jong man in sy kinderfoto erken het en dat daar daadwerklik tot aksie oorgegaan is. ‘n Ongelooflike dankbaarheid dat hulle as gesin weer bymekaar kan wees.

Dan is daar ook ‘n dankbaarheid in my vir elke individu wat ‘n rol in die skryf van nog ‘n hoofstuk van hierdie verhaal gespeel het. Dankie dat julle genoeg omgegee het om iets te doen, en nie net teruggesit het met die hoop dat iemand anders iets sal doen nie.

My hoop en gebed is dat hierdie herenigde gesin net vreugde, geluk en liefde sal ervaar en dat hulle ook met hul ander boetie/kind herenig sal word.

Gereelde REKORD leser

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button