De Freitas moet sy feite regkry

Ek weet nie wat jy doen nie maar dink asseblief in die vervolg tweekeer voordat jy my aanval!

Ek verwys na die brief van mnr. Manny de Freitas waarin hy ‘n growwe aanval op raadslid Izak Berg doen en verwys na sekere verklarings wat in ‘n betrokke saak vertroulik afgelê is deur my.

Ek moet sê ek is bitter teleurgesteld in mnr. De Freitas. Ek ken hom van geen kant af nie, het nog nooit in my lewe eers ‘n woord met hom gepraat nie, maar iewers in my kop lui ‘n klokkie wat vir my sê dat die heer ‘n DA raadslid is of ten minste was. Ek kry die indruk die man het niks anders om te doen as om mense aan te val met feite wat hy nie kan bewys nie.

Wat vir my meer skokkend is, is dat hy die een persoon wat nog al die jare baklei het vir die regte van kiesers, op sy vuil manier in onguns wil laat verval. Mnr. De Freitas is volgens inligting nie bereid om te sê waar hy die inhoud van die vertroulike verklaring in die hande gekry het nie, dit wys net vir my dat hy waarskynlik van nog een van sy onderduimse maniere gebruik gemaak het om dit te kry of eerder, dat hy geensins die verklaring in sy hande gehad het nie, want dan sou hy ten minste my naam korrek gespel het. Dit sê vir my dat hy ‘n onderduimse informant het wat hom met verkeerde inligting voer. As dit die wyse is waarop die DA werk, dan is ek op nuut bly dat ek nie ‘n DA-ondersteuner is nie.

Ek sal mnr. De Freitas dus versoek om in die toekoms voordat hy my naam begin beswadder, baie, baie seker te maak van sy feite en doodseker maak dat hy die korrekte inligting in die hande het voordat hy koerante toe hardloop!

Oor die omstandighede waaronder ek met ‘n Artikel 408 gedagvaar is, om eerstens as getuie teen Izak Berg betrokke te raak in die saak tussen Izak en die voormalige stadsbestuurder, Patrick Flusk, en daarna is ek onder die indruk gebring dat ‘n lid van die Valke ‘n verklaring van my afneem, wat nou blyk dat die persoon klaarblyklik nie ‘n lid van die Valke was nie, wil ek nie uitwy nie, want dit het net mooi niks met Mnr. De Freitas te doen nie.

Ek sal voorstel dat Mnr. De Freitas hom bepaal by sy eie dinge en sy neus uithou uit dinge hou waarmee hy net mooi niks te doen het nie. Indien hy nogsteeds ‘n DA-raadslid is moet hy maar liewer kyk wat die DA vir die belastingbetalers in die streek doen.

Mnr. De Freitas voor jy in die toekoms ooit weer iets oor my in ‘n koerant skryf of waar ookal, voordat jy ooit weer my naam oor jou lippe laat kom, kontak my tog en maak doodseker dat jou feite korrek is. Ek is self iemand wat ongeveer 40 jaar in die media gestaan het, en ek wil vir jou sê die manier wat jy nou gebruik om mense by te kom oor dinge waarvan jy niks van weet nie, is nie hoe dinge in koerante gedoen word nie. Ek weet nie regtig iets van jou af nie, ek weet nie wat jy doen nie maar dink asseblief in die vervolg tweekeer voordat jy my aanval!

Sarie van Niekerk, Brakpan

Exit mobile version