Editor's choiceOpinion

Moenie die hand byt wat jou voed nie

Ek is kwaad vandag, verby omdraai kwaad…vir myself. Êrens in ‘n shack by die ou treinstasie plakkerskamp lê Damien op ‘n heroïen binge.

ALBERTON – Die tablet wat hy uit my huis gesteel en verkwansel het, betaal vir sy binge. Dit is die einste Damien, (of “Duimpies” sy straatnaam) met die mooi blou ogies en onskuldige groet-waai, wat net na McCafe oorkant die Unie hospitaal op die kruising van die Ringpad staan, met die bordjie, wat sê hy “gebruik nie dwelms nie”.

Vanoggend, 6 Oktober, het hy gesê: “Heidi, onthou hierdie dag! Onthou hierdie dag, en wat jy alles vir my gesê en gedoen het, ek sal jou nie teleurstel nie!” Ek sou hom vandag SANCA toe neem vir rehabilitasie.

‘n Paar jaar gelede het ek, as ‘n eksperiment, besluit, om te probeer ervaar hoe dit werklik is om te bedel; om as ’t ware te stap in die mense se skoene want sonder “verstaan”, kan mens nie oordeel nie. Ek het drie ure uitgehou in Meyerton, die geld geneem, kos gekoop en kom uitdeel onder die staatmense in Alberton. So het ek baie van die straatmense van Alberton leer ken. Sedert my eksperiment het ek ‘n punt daarvan gemaak om ten minste oogkontak te maak, te groet en te vra hoe dit gaan, want menslikheid kos niks.

Damien het van die begin af uitgestaan tussen almal. Daar was ‘n soort belofte wat met sy menswees om sy skouers gehang het en in sy mooi blou ogies gesit het, dat hy moontlik, net moontlik, die een kan wees wat iets van sy lewe kan maak.

“Heidi, ek is so bang; ek wil dit nie weer deur my g*t trek nie,” het hy gesê. Ek weet daar was al voorheen mense wat hom kanse gegee het.

“Wat sê jy vir my, Damien, as jy dit sê? Dat hierdie jou laaste kans is?” het ek gevra.

Hy het stadig sy kop geskud: “Ja, dis my laaste kans. Dit maak jou numb, ek wil nie meer numb wees nie. Dis my laaste kans en ek wil dit nie op#*@ soos die vorige kere nie.”

Hy het egter!

‘n Mens moet verskriklik numb wees as jy ‘n tablet steel by ‘n gestremde in ‘n rolstoel vir wie daardie tablet baie duidelik ‘n geliefkoosde besitting is; iemand wat ongeskik is na ‘n ongeluk en besig is om sy lewe weer bymekaar te kry. Iemand wat jou sonder oordeel en met liefde klere gee, kos en skoene gee.

Daarom sê ek nou in die koerant: “Damien, onthou hierdie dag! Onthou hierdie dag en alles wat jy gedoen en gesê het, want dit is die dag waarop Alberton sy beursies vir jou gaan toemaak! Alberton ondersteun nie heroïen of heroïen-verslawing nie. Ons maak ons beursies toe daarvoor sodat ons kinders skoon kan bly. As jy rock bottom slaan (en ek hoop dit gebeur gou) en jy wil SANCA toe gaan, weet jy waar om my te kry. Intussen sal ek graag wil hoor van al die mense by wie Damien al so gesteel het. My e-pos adres is heidi.chester@movingcheese.co.za en ek dink dit sal goed wees as Damien almal op ‘n stadium om verskoning vra of probeer terugbetaal.

Heidi

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button