FAK vereer Barbara Veenemans by Cantare kinderkoorfees

Die talentvolle opera soprane is tydens die koorkonsert vereer vir haar uitstekende bydrae tot Afrikaanse musiek.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die legendariese sopraan, Barbara Veenemans, vereer met die gesogte S le Roux Marais-toekenning tydens die Cantare kinderkoorfees by die NG Kerk Alberton-Suid.

Hierdie toekenning, wat uitsonderlike bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek en kultuur erken, is slegs die tweede keer toegeken. Jannie Moolman was die eerste ontvanger in 2022.

Veenemans, gebore in 1938, het oor ’n loopbaan van meer as 50 jaar gehore betower met haar liriese stem en ikoniese rolle in operas soos The Merry Widow en The Marriage of Figaro.

Haar invloed strek verder as die verhoog. Sy was ook een van die eerste Suid-Afrikaanse musieksterre wat op televisie verskyn het, en haar bydraes tot die bevordering van Afrikaanse musiek is talle kere erken.


Harmonia Meisieskoor onderleiding van Ida Strydom

Die toekenning het ’n besondere betekenis vir Veenemans, wat haar dankbaarheid uitgespreek het: “Hierdie toekenning is ekstra spesiaal omdat ek die komponis na wie dit vernoem is, wyle Stefanus le Roux Marais, persoonlik geken het. Hy was die dierbaarste mens. ‘n Saggeaarde, pragtige, talentvolle, wonderlike mens. En dit was altyd vir my die grootste eer en heerlikheid om sy musiek te kon sing. En nou, hier kry ek toe op hierdie ou ouderdom van my, die S le Roux Marais-toekenning. En ek sê duisende dankies daarvoor, dit is vir my heerlik!”

Lieandri Ackermann van die FAK het die toekenning oorhandig en beklemtoon dat dit toegeken word vir Veenemans se onmiskenbare bydrae tot Afrikaanse kunslied vir meer as 50 jaar. Die aand was verder gekenmerk deur indrukwekkende optredes van verskeie kore, insluitend die Cantare Kinderkoor, Harmonia Meisieskoor, Voces Libres en ander talentvolle groepe.


Coert Groebbelaar, Barbara en Michelle Veenemans

Die aand is afgesluit met ‘n massakoor met die soliste van die aand Michelle Veenemans, dogter van Barbara en die bekende tenoor, Coert Grobbelaar.

Lian Davel, ’n jong sanger, het sy opwinding gedeel: “Dit was baie lekker en ek wil dit weer volgende jaar doen.”
Die geleentheid was ’n viering van musiek en kultuur wat lank onthou sal word.

Exit mobile version