Local news

Komediant maak opspraak op sosiale media

Van die ouer garde in Alberton sal dalk vir Schalk Lingerfelder onthou – en nou gaan ons terug na jare toe die Vleisparadys nog bestaan het en Alberton City nog 'n CD-winkel gehad het. Hy was altyd bekend as een wat kon skerts en grappe maak en deesdae is hy bekend as Doringdraad, 'n bekende

Van die ouer garde in Alberton sal dalk vir Schalk Lingerfelder onthou – en nou gaan ons terug na jare toe die Vleisparadys nog bestaan het en Alberton City nog ‘n CD-winkel gehad het.

Hy was altyd bekend as een wat kon skerts en grappe maak en deesdae is hy bekend as Doringdraad, ‘n bekende komediant. Hy tree landwyd op by verskeie van die land se grootste musiekfeeste, asook eenman komedie vertonings.

Dit alles in Afrikaans.

Die komediant het reeds in 2009 begin, toe hy as eerste die Afrikaanse ‘stand-up comedian’ genooi was om by Aardklop en Innibos Fees in Nelspruit met sy bekende produksie Nou wat Nou? op te tree.

Vandaar loop hy ‘soos ‘n donkie langs ‘n draad’ reken hy.

Hierdie voormalige Albertonner het kom kennis maak met die Alberton Record en sy onlangse mylpaal gedeel – meer as een miljoen ‘views’ vir die video van een van sy grappe op sy Facebookblad.

“Ek is in die wolke. Dit is fantasies. Ek kan net dankie sê aan almal wat dit moontlik gemaak het. Die grappie kom al baie jare saam my. Ek het hom al ‘n paar keer as ‘n teksgrap geplaas, maar die video vat toe behoorlik die eerste plek.

“Dit is humor wat eintlik gaan oor ou getroudes se kaskanedes wat jy ondervind na baie jare se getroud wees. Wanneer ‘n man dalk ‘n grappie maak op die verkeerde tyd en plek dan tref dit jou en spot hy lekker.

“’n Afrikaner wat mos nie lag nie is soos ‘n Cowboy sonder ‘n hoed,” skerts hy.

“Dit is immers deel van ons kultuur om te lag. Almal lag vir ‘n goeie ou Van der Merwe grappie,” skerts hy.
Doringdraad maak mense al lag van kindsbeen af en sy familie en vriende kan getuig.

“Om mense te kan maak lag maak my hart bly. Dit inspireer my om mense gelukkig te sien.”

So bietjie agtergrond

Hoewel hy vandag in Kameeldrif-Oos in Pretoria gebasseer is, sal iets van sy hart altyd in Alberton agterbly.

Schalk Lingerfelder is vandag beter bekend as Doringdraad.

“Ek was in Elspark Tegnies en het toe later my vrou ontmoet by Germiston College. Sy het geswot vir ‘n haarkapster en in daardie jare was my hare redelik lank. Ek was toe al ‘cool’. Ons is toe getroud en het verhuis na Alberton. Van ons mooiste herhinderinge lê daar.”

Op ‘n hoekerf in Hesperusstraat, Raceview voor die groot verkeersirkel het hulle drie dogters grootgemaak
“Daar het ek my beste 100m tyd nog opgestel. Terwyl ek en my vrou ons oudste dogter geleer het om fiets te ry het sy besluit om op vyfjarige ouderdom af te snel na die besige verkeersirkel. Lance Armstrong sou trots wees,” vertel hy.

Sy kinders was in Laerskool Generaal Alberts Primary skool waar een van sy dogters die Mej Albies titel ingepalm het. Later is hulle Hoërskool Alberton toe. “Hier het ons menigte kere die Allies hoor geesvang tydens sportbyeenkomste. Meneer Schoeman was in daardie jare die hoof gewees.”

Hy onthou hoe hulle Vrydagaande by die Spur in Alberton City as gesin gekuier het en dit is dan ook in dié sentrum waar hy sy gunsteling winkel, die CD Collection besoek het.

“Saterdae was ek vroeg by Vleis Paradys Slaghuis en dan braai ons soos oudergewoonte by my boetie wat vandag steeds in Alberton woon. ‘n Hoogtepunt vir my was toe die Bokke in 1995 die Rugby Wêreldeker teen die All Blacks op Ellispark gewen het. Al die hoofstrate was afgekordon en mense het heerlike gesing en gedans in die strate. Wat ‘n belewenis! Ek sal dit nooit vergeet nie.”

En het hy ooit in Alberton opgetree?

“Wel, miskien was julle daar. Dit is nou as julle nog die restaurant Out of Africa op die koppie oorkant die NG Kerk-Wes kan onthou. Dié het later die Boma geword en vandag is dit die tuiste vir die Dros. Dit was my enigste ‘show’ in Alberton ooit,” het hy afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button