Johan groet Alberton-gemeenskap

Springbok Haarkapper en Horlosiemakers se deure sluit na 76 jaar.

Springbok Haarkapper en Horlosiemakers wat deur drie geslagte van pa na seun oorgedra is se deure sluit na 76 jaar. In hierdie jare het kliënte gereelde besoekers en bekendes geword, sommige selfs vriende.

“Hoe sê mens dankie vir ’n gemeenskap wat jou deur die jare gedra het?” het Johan Reed, eienaar van Springbok Haarkapper en Horlosiemakers, gesê.

Na 76 jaar maak die deure van die bekende haarkapper en horlosiemakers in Alberton-Noord toe.

Die Alberton Record het by Johan gaan kuier om te gesels oor die sluiting van sy besigheid en om meer oor sy toekomsplanne uit te vind.

Die einde van ‘n era

Springbok Haarkapper en Horlosiemakers bestaan al vanaf 1946 en het in die 76 jaar nog net drie keer van perseel verander. Dit was vir die laaste 38 jaar in 44 Van Riebeecklaan geleë.

Johan het in Oktober in 1984, nadat hy by sy pa oorgeneem het, Springbok Haarkapper en Horlosiemakers in Alberton-Noord oopgemaak en van daar af het hy nog nie ‘n dag terug gekyk nie. Dit was vir hom ‘n plesier om hare te sny.

“Die besigheid is deur my oupa in 1946 begin. My pa het toe latere jare by hom oorgeneem en toe ek,” het Johan vertel.

Volgens Johan het daar al soveel voete deur sy winkel gestap en het hy oor die jare baie nuwe vriende gemaak. “Vriende wat familie geword het.”

Johan Reed groet Albertonners met ‘n swaar hart.

Johan het ‘n goeie klientbasis opgebou en dit was vir hom lekker om ou bekendes gereeld te sien.

“Ek voel oorweldig want ek sien uit na dit wat voorlê. Maar ek is nou besig met die proses van totsiens sê aan almal. Dit is vir my so hartseer.”

Johan het aan die Alberton Record vertel dat die winkel teen die einde van Augustus sal toemaak.

“Ek het op ‘n punt in my lewe gekom waar ek meer tyd saam my vrou, kinders en my kleinkinders wil spandeer. In my opinie is die mens se leeftyd 85 jaar. Dalk korter of langer wie weet?

“Ek word 64 wat beteken ek het net ‘n paar jaar oor om nog dinge te doen wat ek wou doen saam met my hartsmense,” het Johan gesê.

Volgens hom het baie dinge tot die besluit bygedrae.

“Ons dra steeds die nagevolge van die Covid-19 pandemie en ons ekonomie bly swak. Bo-op dit alles is daar dan nog beurtkrag ook. Finansieel raak dit net moeiliker om die deure oop te hou.”

Hy het ook vertel dat sy gesondheid in 2021 ‘n skielike draai gevat het na ‘n groot knie operasie.

“Jong, die besluit was al vir solank in my gedagtes en ek dink al die goedjies het nou maar net bygedra om die finale besluit te neem. Om af te tree of om totsiens te sê is nooit maklik nie.”

Johan het gesê dat alhoewel hy toemaak dat hy steeds sy dienste beskikbaar stel vir sy kliente. “Ek is nie weg nie, ek is net nie meer op dieselfde plek nie – ek is nog hier. My nommer 082 680 8526 en ek sal altyd beskikbaar wees vir die inwoners.”

Toekomsplanne

Johan het vir jare lank ses dae ‘n week gewerk wat dit onmoontlik gemaak het om by sy familie en vriende uit te kom. Hy gaan nou meer gereeld by almal kuier.

Johan Reed is hartseer oor die sluiting van sy familie-besigheid, maar baie opgewonde oor die toekoms.

“Ek en my vrou, Karen, gaan ons karavaan pak en die land stukkie-vir-stukkie besoek. Ons gaan nie die heeltyd op vakansie wees nie maar ons gaan meer gereeld met vakansie gaan.”

Vir ‘n rukkie gaan Johan eers tuis wees en seker maak dat al sy huistake op datum is voor hy en Karen die pad gaan vat. “Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek sien uit daarna en beplan om dit dag-vir-dag te vat en die lewe voluit te lewe.”

Dankie is nie die woord nie

“Die afgelope 76 jaar het ons hoogtepunte en laagtepunte beleef, maar deur dit alles was die gemeenskap van Alberton nog altyd net daar.”

Johan is ook ongelooflik dankbaar vir Cielie Modisanyane wat al die jare sy regterhand was. “Cielie het nie net hier gewerk nie. Sy was my regterhand – ek die eienaar en sy die bestuurder. Sy het meer geweet wat in die winkel aangaan as ek. Cielie was betroubaar, lojaal, vriendelik, hulpvaardig en daar is niks wat sy nie kan doen nie.
“Sy is absoluut ‘n juweel en vir haar sal ek nooit vergeet nie.”

“Ek het vir haar gesê dat ons een keer ‘n maand sal kuier tot een van ons nie meer daar is nie. En nou kan sy ook gaan rus en haar oudag geniet,” het hy gesê.

“Ek sit hier met ‘n hart vol van dankbaarheid. Ek wil vir elke kliënt wat ons ondersteun het baie baie dankie sê.

Sonder julle sou ons dit nie kon doen nie. Julle het ons gemaak wat ons vandag is. Ek neem swaar afskeid van elkeen van julle en met ‘n dankbare hart groet ek julle,” het hy gesê.

Exit mobile version