Manie Jackson kuier by Emmanuel-groep

Bekende sanger, Manie Jackson, kuier by die Emmanuel-groep.

Die Emmanuel-groep het onlangs bymekaar gekom en ‘n heerlike oggend saam met die bekende sanger, Manie Jackson, by die Alberton LewenSentrum te geniet.

Daar het groot opgewondenheid geheers toe die gaste weer vir Manie en sy span sien.

Hy het aan lede sy nuwe CD, Daar sal nuwe winde waai, bekend gemaak en bietjie agtergrond oor die nuwe album gegee.

Manie het liedere soos Nader aan die Vader van Connie Frances, Take my hand en Let me Stand van Manuel Escorcio gesing.

Hy het ook ‘n paar gospel liedjies gesing wat behoorlik ‘n mens se hart sag gemaak het.

“Liedere soos Wat ‘n Vriend het Ons in Jesus, Amazing Grace en Die Hemel Weet het ons baie geniet,” het Johan en Hanta Schutte vertel.

“Ons moet melding maak van Manie se besondere vrou, Christelle. Sy sing saam en ken elke liedjie se woorde, wat dan tot hulp is vir Manie.”

Hy groet die groep met die lied Suid-Afrika. Daar het ‘n gesellige atmosfeer geheers na afloop van Manie se vertoning en almal het gesmul aan heerlike eetgoed en stomende drinkgoed.

Vir meer inligting oor Emmanuel, kontak Marelie Rabie by 011 864 1285 of 082 462 8676.

Exit mobile version