Baba Ignus is ’n vegsoldaatjie

Nadia Greyling (29) en haar man Phillip (36) het albei in Heidelberg grootgeword.

Op ’n plaas net buitekant die dorp het die gesin saam met hul seuntjie, Arlo (7), uitgesien na die koms van hul tweede kind.

Na ’n gesonde swangerskap waar geen gevaar opgemerk was nie, was Nadia gereed vir Ignus se keisersnitgeboorte op 15 April.

Dit was egter in die teater toe die pediater opgemerk het dat Ignus nie reg asemhaal nie. Ignus was na die hospitaal se neonatale intensiewe sorgeenheid (NICU) gehaas vir waarneming waar ’n X-straal geneem was wat gewys het dat sy organe sy hart en longe verdruk.

“Ek het op ’n stadium agt of nege lewenslyne getel wat aan sy lyfie gekoppel was,” het baba Ignus se ma vertel.

“Die volgende oggend het neonatoloog dr Klaas Mnisi aan ons verduidelik dat Ignus iets het wat ’n aangebore diafragmatiese breuk (CDH) genoem word. Binne my baba se liggaam was daar ’n gat in die spier wat die bors van die buik skei, wat sy buikorgane deur die spier laat druk en sy longe saamdruk,” het Nadia verduidelik.

“Dit was vreeslik emosioneel. Ons het nie geweet wat vir ons wag of hoe ons die volgende weke sou hanteer nie. Ons het elke oomblik gebid en op die Here vertrou. Ons was baie gelukkig om by die Clinton-hospitaal te wees, aangesien uiters bekwame dokters daar praktiseer.”

Dr Jeevarathnum, hoof van die intensiewe sorg en buite-liggaamlike membraan-oksigenasie- (ECMO) masjien, het gesê: “Die algehele kans op oorlewing vir Ignus, alles in ag genome, was buitengewoon laag, indien glad nie.”

Hy het bygevoeg dat Ignus aanvanklik nie op die terapeutiese maatreëls gereageer het nie en dat die druk in sy long buitengewoon hoog was.

Baba Ignus word as ’n vegsoldaatjie beskou nadat hy gebore is met sy organe wat teen sy longe druk en ’n lewensgevaarlike prosedure en operasie oorleef het.

’n Toestand wat bekend staan as pulmonale hipertensie en respiratoriese ondersteuningsmaatreëls het misluk. Vir enige kans om sy lewe te red, moes die terapie verhoog word tot die ondersteuning van die ECMO-masjien.

ECMO is ’n hoogs gespesialiseerde proses waar ’n masjien die funksies van die hart en longe 24 uur per dag vir 12 dae kunsmatig verrig.

“Dr Jeevarathnum het ons saam met Ignus se span spesialiste gebel en verduidelik dat dit met ons baba glad nie goed gaan nie. Hy moes op ’n masjien genaamd ECMO gesit word om sy longe die kans te gee om te rus voordat hy gereed sou wees vir ’n operasie.

Op daardie oomblik het dit gevoel asof iemand die hele wêreld onder my voete uitgetrek het, maar ons was desperaat om Ignus ’n kans te gee,” het Nadia gesê.

Baba Ignus is ’n bondel vreugde vir sy gesin.

Jeevarathnum het gesê: “Alhoewel ECMO goed gevestig is in die versorging van volwassenes in Suid-Afrika en ’n baie goeie terapeutiese strategie is, hou dit groot risiko’s in vir ’n pasgebore baba. Dit was egter die beste opsie om sy lewensfunksies te ondersteun en hom goed genoeg te kry vir ’n operasie.”

Nadia het genoem: “Op ’n stadium het ek agt of nege lewenslyne getel wat aan sy lyfie gekoppel was. Elke skuif wat dr Jeevarathnum gemaak het, was noukeurig bereken en bespreek met ’n span wat hoogs gekwalifiseerd was in gebiede wat ek nie eens kan uitspreek nie.”

Na byna twee weke op ECMO was die spesialiste oortuig dat Ignus in ’n beter toestand was vir die operasie om die gat in sy diafragma te herstel wat sy buikorgane in hul korrekte posisie sou hou om die druk op sy longe te verlig.

Pediatriese chirurg dr Charles Carapinha het die operasie uitgevoer.

Baba Ignus Greyling lyk op die oog af asof hy glad nie siek was nie, vertel ma Nadia.

“Ons was die eerste week of twee nogal besorg oor Ignus; sy toestand het egter op ECMO voldoende gestabiliseer om die prosedure te laat voortgaan,” het Carapinha gesê.

“Na my wete is Ignus die eerste baba wat met CDH in Suid-Afrika gebore is, wat ECMO voltooi het en daarna suksesvol van ’n diafragmatiese hernia herstel het. Hy het die prosedure goed geduld en sy vordering was merkwaardig. Ons klein soldaat was uiteindelik gereed om huis toe te gaan.”

Jeevarathnum het gesê: “Hy het nie net oorleef nie, maar alles dui daarop dat hy liggaamlik en neurologies gesond is. Dit is ’n absolute wonderwerk.”

Nadie het gesê: “Na ses weke en 1 008 uur sedert hy gebore is, kon ek my baba vir die eerste keer vashou. Wat ’n wonderlike gevoel. Die grootste geskenk wat iemand kan ontvang, is waarskynlik die geskenk van die lewe. Op ’n stadium het ek dr Jeevarathnum bedank vir wat hy tot dusver gedoen het, en ek het gesê dat hy ’n wonderwerk gedoen het. Sy woorde sal my lank bybly en my deur die dae en nagte van onsekerheid dra: ‘Christus het die wonderwerk gedoen. Hy het net my hande gebruik’.”

Dr Jeevarathnum het bygevoeg: “Ignus se verhaal het die maatstaf vir Suid-Afrikaanse neonatalesorg verhoog, wat wys dat ons internasionale standaarde van mediese sorg vir ons kinders het en goeie uitkomste kan bereik, selfs vir babas met ’n sterk kompromie. Hierdie wêreldklas-intervensies is beskikbaar in ons land en met die gesamentlike pogings van ’n toegewyde multidissiplinêre span. Die uitstekende herstel van Ignus het bewys wat moontlik is.”

Nadia en Phillip Greyling met Ignus wat uiteindelik kon huis toe gaan.

Na ongeveer 5 500km wat die gesin tussen hospitaal en huis moes gery het, is hulle verlig en dankbaar dat Ignus nou tuis is.

“Op die oog af sou jy nie sê daar was ooit iets fout nie. Tot dusver is hy baie gesond en het ons geen probleme nie. Hy sal in Oktober opvolg X-strale hê om seker te maak die diafragma en die breuk wat herstel is, is nog alles mooi in plek. Dit gaan so goed. Ons geniet mekaar en die tyd wat ons as gesin saam het waardeer ons opreg. Sy ouboet help my so mooi en is baie trots op sy titel as ouboet,” het Nadia gesê.

Die gesin het hulle opregte dank uitgespreek teenoor die mediese span en personeel van Clinton-hospitaal en die gemeenskap wat hulle in alles bygestaan het.

Ignus se spesialis span het ingesluit: Mnisi, Jeevarathnum, Carapinha, pediatriese intensivis dr Linda Doedens, pediatriese nefroloog dr Sanushka Naidoo, pediatriese kardiotorakchirurg en ECMO-spesialis dr Krubin Naidoo, dr Phillipa Penfold en Dean Nolte.

Nadia Greyling vertel dat sy ses weke en 1 008 ure na Ignus se geboorte hom vir die eerste keer kon vashou.
Exit mobile version