Alberton leerder blink uit in musiekeksamen

Krystal Lightfoot het haar Graad Sewe musiekeksamen geslaag ten spyte van inperkings.

Krystal Lightfoot, ’n matriekleerder van Hoërskool Dinamika, het onlangs ten spyte van die inperking haar Graad Sewe musiekeksamen met ’n eervolle vermelding geslaag.

Volgens haar musiekonderwyser, Pieter Jacobs van Verwoerpark, is dit nog meer merkwaardig as gevolg van die verskye hindernisse wat die inperkings mee gebring het.

Die musiekeksamen sou tradisioneel van aangesig tot aangesig met beoordelaars gedoen word. As gevolg van die pandemie kon dit egter nie so gedoen word nie en die eksamen was via ’n video gedoen.

“Gewoonlik sit die beoordelaars ver,” het Krystal vertel.

“Op video kan hulle al jou vingers op die klawers sien en wat jou voete op die pedale doen.”

Om dinge nog moeiliker te maak was die bladmusiek wat sy nodig gehad het om die eksamen van die Wes London Universiteit te voltooi nie tuis beskikbaar nie. Dit moes met vele moeite ingevoer word en het die tyd wat sy aan die stukke kon spandeer verminder.

Pieter was veral beïndruk deur Krystal se deursettingsvermoë om die eksamen op die nuwe manier te kon aflê.

“Dit is verstommend dat sy so goed gedoen het,” het hy gesê.

Op haar beurt het Krystal gesê een van die redes vir haar sukses was haar musiekonderwyser se ongelooflike geduld.

Krystal se musiekliefde het van haar pa af gekom. Hy het vir hulle as kinders op sy klawerbord gespeel en van daar af het haar liefde vir musiek begin. Sy het gesê sy verkies die praktiese deel van musiek bo die teorie. Haar gunsteling styl van musiek is klasiek.

“As jy klassieke musiek kan speel kan jy enigiets speel,” het sy gesê.

Eendag hoop sy om ook ’n musiekonderwyser soos Pieter te wees, al is dit net deeltyds.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version