Local newsNews

99 geseënde jare vir ouma Lettie

Vriende en familie het ouma Lettie se 99ste verjaarsdag met 'n heerlike ete gevier.

Aletta Maria Adriana Wilken (neé Upton) het op 14 Maart haar 99ste verjaarsdag gevier en volgens haar familie-lede is hulle geseënd om haar steeds in hulle lewens te hê.

‘Ouma Lettie’ soos baie haar ken is baie geliefd en sy is vir baie ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens hulle lewe moet leef.
Sy is ‘n trotste ma van vyf, ouma van 14 en oumagroot van 23, om nie eens van al die aangetroudes te praat nie.

Geskiedenis van ouma Lettie

Ouma Lettie is in 1922 in die Dordrecht omgewing op ‘n plaas gebore waar sy ook die meeste van haar grootword jare deurgebring het.

Sy het vyf broers en vyf susters gehad waarvan ‘n seuntjie doodgebore is en ‘n dogtertjie wat op 15 maande oorlede is. Ouma Lettie was die oudste. Sy het haar skoolloopbaan in Dordrecht en Zastron voltooi.

Haar droom was om ‘n verpleegster te word maar dit het nooit gebeur nie. Sy het begin werk as ‘n huishoudster en het later in die Moedersbond Hospitaal in Pretoria gewerk, waar sy haar eerste man by ‘n kerkfunksie ontmoet het.
Sy is in 1943 met Mighal Michael van Rooyen getroud en het twee seuns, Ivan en Neels, gehad.

Na haar egskeiding in 1952 het sy na Bloemfontein verhuis waarna Hugo Wilken in 1955 in die prentjie gekom het.
Hugo en sy het drie kinders gehad, twee seuns Hugo en Johan, en ‘n dogter, Mariana. In 1972 het sy haar man verloor nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval gekry het.

In 2006 is Mariana na ‘n ernstige motorongeluk oorlede en in 2015 het ouma Lettie een van haar seuns uit haar vorige huwelik, Neels van Rooyen, ook aan die dood afgestaan.

Sy het ook ‘n skoondogter en twee kleinkinders aan die dood afgestaan.

“Ek het op my knieë gebly en my geloof het my deur dié hartseer gedra,” het ouma Lettie gesê.

Sy het vir baie jare alleen in haar drie slaapkamer huis in Wilgehof, Bloemfontein, gebly tot sy op 95 jarige ouderdom na Alberton verhuis het om by Johan en Hester te kom woon.

Geliefde bakster

Na die dood van Oupa Wilken het sy haar pensioen inkomste aangevul met die bak van beskuit en ander gebak. Sy was bekend in die Bloemfontein omgewing vir haar beskuit.

Mense het van heinde en verre bestellings geplaas. Sy het hiermee volgehou tot sy ongeveer 90 jaar oud was.
Ouma Lettie was bekend onder die gemeenskap as hardwerkend en het sonder hulp haar kinders in moeilike omstandighede groot gemaak. Sy het genoem dat haar rolmodel haar pa was want hy was altyd daar vir haar wanneer sy hom nodig gehad het.

Sy sê dat die resep in die lewe is om altyd die reguit pad te loop en geld te spaar vir moeilike tye.

Ouma Lettie is in 1922 in die Dordrecht omgewing op ‘n plaas gebore.

Verjaarsdagvieringe

Familie en vriende van ouma Lettie het op haar verjaarsdag bymekaar gekom en ‘n gesellige ete by Johan en Hester se huis geniet.

Die familie en vriende wat nie die partytjie kon bywoon nie, het omtrent almal gebel met goeie wense vir die dag en vir die die pad vorentoe.

Haar familie glo dat God se genade en die Upton gene ‘n groot rol speel by die hoë ouderdom wat Ouma Lettie sover bereik het.

Haar pa, Neels, is oorlede op 93, en haar pa se broers, Oom Willem 103, Oom Antoon 97, Oom Jan 93 en Tannie Poppie 97 het almal die negentigs gemaak.

Sy het alreeds drie broers en twee susters aan die dood afgestaan. Haar oorlewende twee jonger broers is Oom Hendrik (85) en Oom Renier (83).

Boodskap van familie

“Ouma Lettie is voorwaar ‘n besondere seën van die Here. Ons glo dat Ouma Lettie met goeie gesondheid, gebede en die wil van Onse Vader die mylpaal van 100 jaar mag behaal. Sy bly ‘n voorbeeld vir almal van ons,” het die familie gesê.

Related Articles

Back to top button