‘Bankverteenwoordigers’ vis vir jou geld

Moet nooit persoonlike en vertroulike inligting met enigiemand deel as jy hulle identiteit nie baie deeglik nagegaan het nie.

Misdadigers bedink voortdurend nuwe maniere uit om eerlike Suid-Afrikaners van hulle hardverdiende geld te skei.

’n Slenter om persoonlike inligting in te samel wat slagoffers in die VSA meer as R700-miljoen in ’n enkele jaar gekos het bly ook ’n kwelpunt in Suid-Afrika, met ’n nuwe golf van “vishing” wat groot kommer wek.

“Vishing”, oftewel “voice phishing” verwys na ’n strategie waar booswigte ’n foonoproep gebruik om jou te kry om persoonlike inligting en rekeningbesonderhede te deel.

“Hierdie misdadigers sal tipies honderde oproepe per dag maak en hulself voordoen as verteenwoordigers van banke en ander finansiële instellings, sagtewaremaatskappye, sekuriteitsmaatskappye, regeringsinstansies en meer, en eis dat jou rekening, foon of rekenaar se veiligheid in gedrang is,” het Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, gesê.

“Hulle gebruik ‘sosiale ingenieurswese’ om jou te manipuleer, jou vertroue te wen en jou onder druk te plaas deur te sê dat jy dadelik moet optree, net om waardevolle inligting uit jou te onttrek wat hulle dan kan gebruik om jou geld te kry.”

Volgens die South African Bank Risk Information Centre (SABRIC) se HUB, Nischal Mewalall, word te veel Suid-Afrikaners steeds slagoffers hiervan, ten spyte van sterk en herhaalde waarskuwings.

“Soos wat robuuste risikobeperkingstrategieë dit moeiliker maak vir misdadigers om by stelsels in te breek en data te steel, word sosiale ingenieurswese gebruik om menslike emosies en optrede uit te buit en dan hierdie inligting te gebruik om ander misdade te pleeg. Verbruikers verduur ’n dubbele slag: eerstens word hulle slagoffers van identiteitsdiefstal en dan word hulle slagoffers van bedrog,” het Mewalall gesê.

Foto: ReputationDefender – Medium.

Virseker en SABRIC bied die volgende wenke om jouself teen vishing te beskerm:

• Wees skepties. Behandel elke oproep wat jy van iemand – wat eis dat hulle van ’n vertouenswaardige instansie is – ontvang as ’n moontlike bedreiging, totdat hulle die teendeel baie deeglik bewys. Onthou dat nie enigiemand wat ’n paar van jou persoonlike besonderhede weet noodwéndig ’n kontak is wat jy kan vertrou nie.

Stuur ver verby iemand wat jou vir jou wagwoord, PIN, kredietkaart of ander besonderhede vra.

• Ken jou vriende. Gaan die ooreenkomste wat jy met jou bank en ander instansies het deeglik na om seker te maak watter telefoonnommers jy kan vertrou. Maak ook seker dat jy weet presies watter inligiting hierdie instansies jou sal vra om jou identiteit te bevestig.

• Staatsgeheim: Moet nooit persoonlike en vertroulike inligting met enigiemand deel as jy nie hulle identiteit baie deeglik nagegaan het nie. As jy onraad vermoed met ’n oproep, beëindig dit dadelik en bevestig eers met die instansie – deur kommunikasiekanale wat die instansie self verskaf – of dit wel een van hulle verteenwoordigers is.
Let wel: banke en ander finansiële diensverskaffers (FDVs) het baie spesifieke riglyne van watter inligting hulle nie tydens ’n oproep sal vra nie. Banke sal byvoorbeeld nooit vir jou PIN vra nie.

• Slang in die gras. As jy ’n eenmalige PIN op jou foon ontvang sonder dat jy besig is met ’n transaksie, het ’n skurk waarskynlik jou persoonlike inligting. Moenie hierdie PIN telefonies met enigiemand deel nie.

• Agter slot en grendel. Maak seker dat al jou teenvirus- en sekuriteitsprogramme op datum is en werk. Dis ’n baie waardevolle ekstra lyn van verdediging.

• Kyk voor jy kliek. Moenie op enige skakel kliek wat via SMS, e-pos of ander platform aan jou gestuur is deur ’n kontak wat jy nie deeglik geverifieer het nie.

• Hou beheer. Moet nooit beheer van jou selfoon of rekenaar aan ’n derdeparty oorhandig nie. Indien jy, tydens ’n oproep waar jy onraad vermoed, skielik sein verloor en/of “SIM swap”-kennisgewings kry, beëindig die oproep en stel die owerhede onmiddellik in kennis.

• Verandering is goed. Dis ’n goeie idee om jou PIN en wagwoorde gereeld te verander om te vermy dat booswigte jou kan teiken.

• Bel die polisie. Hou alle noodnommers vir jou bank en ander FDVs byderhand. Indien jy vermoed dat jy deur “vishing” of “phishing” booswigte geteiken word, of geteiken is, stel hulle en/of jou selfoondiensverskaffer dadelik in kennis.

“Onthou dat booswigte énige iets sal doen om soos die mense en maatskappye wat jy vertrou te lyk en op te tree. Hulle sal tot uiterstes gaan om jou geld te steel en, ja, dit kán met jou gebeur,” het Coetzee gesê.

“’n Skeptiese instelling, die nagaan van elke detail, die slim gebruik van tegnologie, ’n ogie op misdaadtendense en om voltyds paraat te wees is die beste manier om te voorkom dat jy duisende rande verloor.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version