Local newsNews

55 jaar van liefde, geloof, geduld en respek

“Ons ploeg saam in die lewe. Alles word saam gedoen en dis spanwerk die heeltyd,” het hulle gesê.

Vir Ben (82) en Petro (77) Barnard was dit liefde met die eerste oogopslag en vanjaar op 26 Junie vier hulle al hulle 55ste huweliksherdenking.

Die RECORD het by hulle huis in Randhart, waar hulle al vir 51 jaar lank woon, gaan kuier.

Eerste ontmoeting

Ben was 21 jaar oud toe hy vir Petro wat toe 18 jaar oud was, ontmoet het.

“Daar was ’n huispartytjie en my broer het gevra dat ek hom na dit toe vat omdat hy nog nie sy lisensie gehad het nie. Ons het by die partytjie aangekom en toe ek wou ry het hy vir my gesê dat ek saam moet inkom,” het Ben vertel.
Volgens hom het hy Petro in die sitkamer gesien sit en was dit alles in daai eerste kyk van Petro waar hy verlief geraak het.

Ben het verder vertel dat hy en Petro daai aand baie lekker gedans het. Hulle het begin kuis op 6 November 1959 en vier tot vandag toe nog hulle kuisdatum.

Sewe sakke sout

Ben en Petro het verloof geraak terwyl sy onderwys studeer het.

“Ons het gewag totdat ek klaar met my studies was voordat ons op 26 Junie 1965 trou aan mekaar beloof het,” het Petro gesê. Volgens die paartjie het hulle ’n groot troue met baie mense gehad, maar daar was nie ’n dansvloer nie omdat dit by ’n kerksaal was.

Die egpaar het nie op hul laat wag om ’n gesin te begin nie en het vier kinders, waarvan een in 1996 in ’n motorongeluk oorlede is.

“Dis glad nie maklik om ’n kind te verloor nie, maar dis juis in tye soos dit wat jy en jou vennoot moet saamstaan en regtig daar moet wees vir mekaar. Jy moet die een kan vang as hy val en anders om. Dit raak beter oor die jare, maar jy vergeet nie,” het Ben gesê.

“Vandag spog ons ook met drie pragtige kleinkinders en is ons grootste wens om meer saam as ’n familie, net soos in die ou dae, op vakansie te gaan. Ons het altyd die lekkerste familievakansies gehad,” het Petro gesê.

55 jaar later

Vanjaar het die egpaar, weens die grendelgreep-tydperk, nie ’n groot ding vir hulle huweliksherdenking beplan nie.

“Ons het vir mekaar kaartjies gemaak en dit versier en uitgeruil,” het Petro vertel.

Volgens die egpaar het geduld, liefde, geloof en respek nog altyd groot rolle in hulle huwelik gespeel.

“As mens ’n Christen is, vergewe jy en jy fokus nie op die ander een se foute nie,” het sy gesê.
Petro het vertel dat Ben baie goed trekklavier kan speel en dat hy tot vandag toe nog vir haar Annatjie van Jan Pool speel.

“Ons ploeg saam in die lewe. Alles word saam gedoen en dis spanwerk die heeltyd,” het hulle gesê.

Gelukwensing van drie kinders

“Dit is uitsonderlik om ouers te hê wat na 55 jaar steeds gelukkig getoud is. Dit is lekker om te sien dat julle mekaar steeds waardeer, steeds saam kan lag en altyd bereid is om iets nuuts saam te ervaar.

Die voorbeeld wat julle stel is iets vir almal om na te streef. Julle is superheroes!”

Ben en Petro Barnard op hulle troudag op 26 Junie in 1965.
Ben en Petro Barnard 55 jaar terug op hulle troudag.

 

 

Ben en Petro Barnard het op 26 Junie hulle 55ste huweliksherdenking gevier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button