Editor's noteLocal newsNews

Ouers van beseerde kind staar groot uitdaging in die gesig weens inperking

“Ons is nou totaal afhanklik van donasies van die publiek.”

Die inperking wat op 27 Maart in Suid-Afrika ‘n werklikheid geword het, het op alle vlakke uitdagings gebring, vir sommige baie meer as vir ander.

Die ouers van vier-jarige Karlien Roets het gou besef dat ‘n moeilike pad voor lê.

Selfs voor die koms van Covid-19 het Karen en Frikkie Roets van Dalview reeds gesukkel om kop bo water te hou om, binne hul vermoë, net die beste vir hul breinbeseerde dogtertjie Karlien te gee.

Die Herald het al voorheen berig oor die kind wat op 10 Augustus 2018 beseer is toe ‘n kombuiskas op haar geval het.

Haar pa, Frikkie, was besig om kaste in ‘n nuwe kombuis in die huis te installeer.

Karlien het ‘n los kas op haar omgetrek en het ernstige breinbeserings in die proses opgedoen.

Na maande in die hospitaal word sy tuis versorg deur haar ouers en twee opgeleide helpers wat 24 uur per dag na haar omsien.

Benewens die feit dat die gesin oor ‘n mediesefonds beskik beloop die uitgawes om Karlien te versorg maandeliks derduisende rande.

Haar ouers het deurentyd fondsinsamelingsprojekte aangepak om te probeer byhou.

‘n Gholfdag wat in November verlede jaar weens ‘n tekort aan belangstelling uitgestel is na 9 April vanjaar moes weer uitgestel word as gevolg van die inperking.

Nog ‘n groot projek, naamlik die Always Believe konsert, wat op 30 Mei in die Mardi Gras Teater by Carnival City sou plaasvind moes ook uitgestel word.

‘Die konsert, wat ons verlede jaar ook gehou het, het ons in staat gestel om twee maande se salarisse vir die verpleegsters wat na Karlien omsien te dek,’ het Karen gesê.

Karlien Roets het 24 uur per dag versorging nodig en is aan ‘n ventilator gekoppel.

‘Die gholfdag sou ook van groot hulp gewees het.’

Sedert die begin van die jaar dek die gesin se mediesefonds ook talle van die behandelings wat Karlien moet ontvang nie meer nie.

‘Sy moet onder andere fisio-, arbeids- en spraakterapie kry. Daar was voorheen ‘n spesiale traumafonds in plek by ons medies, maar dit is nie meer van toepassing nie en al haar behandeling word sedert die begin van die jaar van ons mediese spaarrekening verhaal.’

‘Dié rekening is ook nou uitgeput,’ het Karen gesê.

‘Ons ander kleiner fondsinsamelingsprojekte het ook basies tot stilstand gekom en ons is nou totaal afhanklik van donasies van die publiek,’ het sy bygevoeg.

Dié toegewyde ma het ook baie groot geskrik toe sy kort voor die inperking nêrens handreiniger kon bekom nie.

‘Ons gebruik dit permanent in Karlien se kamer en toe ons besef dat mense handreiniger opraap was dit te laat. (Karlien se kamer is soos ‘n hospitaal ingerig).’

‘Gelukkig het ‘n familielid van ons vir ons 10 bottels in die hande gekry en dit was ‘n redding.’

‘Ons moet uit die aard van die saak ekstra versigtig wees met Karlien as gevolg van haar toestand en weens die feit dat sy aan ‘n ventilator gekoppel is.’

‘Ek gaan glad nie uit nie en Frikkie besoek die winkels slegs wanner dit ‘n absolute moet is.’

Ons volg ook ‘n streng roetine in die huis,’ het Karen vertel.

In ‘n poging om fondse te genereer het Karen en haar skoonma, Wilona Roets, onlangs begin om materiaal maskers te maak.

‘Ek moes leer om dit te doen en selfs Frikkie help, maar dit is baie tydrowend en terwyl ek daarmee besig is kan ek nie tyd met Karlien spandeer nie.’

Die maskers word op bestelling gemaak en die publiek wat bestellings wil plaas kan vir Karen kontak by 074 963 8955.

‘Ja, hierdie is ‘n baie donker tyd vir almal, maar ons is elke dag baie dankbaar dat ons kind nog by ons is.’

‘Ons sal enigiets vir haar doen,’ het Karen gesê.

Related Articles

Back to top button