Maagbreuk maak vrou se lewe hel

Weens die groot breuk kan sy nie eers onderklere dra nie, want dit is net onmoontlik.

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat foto’s wat sensitiewe lesers mag ontstel.

“Om in die publiek rond te loop en te sien hoe mense na my staar en van my praat is hartverskeurend,” het Elsabe Holtzhausen (55) van Dinwiddie gesê.

Elsabe is oorgewig weens ’n breuk in haar maag wat oor die jare net groter en groter geword het.

Dit het so groot geword dat dit oor haar bene hang.

“Ek lyk abnormaal en oorgewig en dit alles oor ’n breuk wat dokters 22 jaar terug by ’n hospitaal moes verwyder het, maar in plaas daarvan om die breuk te verwyder is my naeltjie en 1kg maagvet verwyder.”

In haar onkunde het sy nie besef die breuk is nie reggemaak nie.

Pyn en ongemak

“Die knop het net aangehou groei en ek is moeg om lank by staatshospitale te sit en te wag net om te hoor dat ek vet is en ek moet gewig verloor.”

Drie weke gelede het sy wakker geword met erge koue koors, ’n lopende maag en naarheid.

“Ek was vir drie dae net pap en kon skaars uit die bed kom. Dit het gevoel of ek by die dood omdraai.”

Haar man, Jaco, het gesê dat haar sny van 22 jaar terug so septies gelyk het en dat die breuk amper swart van kleur was.

Hulle was kliniek toe en al wat vir haar gegee was, was ’n salf wat sy aan haar sny moes aanwend.

“Dokters by staatshospitale en klinieke ondersoek nie eers vir Elsabe nie en dit gaan alles net oor hoe sy lyk.

“Elsabe het ’n groot vrees vir hospitale en sy is op daai punt waar sy net wil opgee. Sy wil nie klinieke of hospitale toe gaan nie weens daai spesifieke rede,” het Jaco vertel.

Tydens die onderhoud met die REKORD het Elsabe gekla dat die breuk heeltyd klop en dan voel sy ’n skielike steekpyn.

“Dit is seer en ongemaklik.”

Weens die groot breuk kan sy nie eers onderklere dra nie, want dit is net onmoontlik.

In die verlede was daar al vir haar gesê dat sy net ’n 50/50 persent kans van lewe het.

Kan jy help?

“Die breuk het gemaak dat ek nie wil dorp of kerk toe gaan nie. Mense judge my en sien my as ’n vet vrou wat net heeldag eet.”

Jaco het gesê dat hulle die koerant genader het met die doel om hulp te kry.

“As ons net Elsabe by ’n dokter kan uitkry wat kan help of wat haar deeglik kan ondersoek sodat mens ’n plan kan maak om byvoorbeeld fondse in te samel om vir ’n operasie te betaal,” het hy gesê

Jaco is ’n oud-polisielid wat geen pensioen of Sassa-gelde ontvang nie, net Elsabe ontvang Sassa omdat sy weens ’n erge nier probleem onbevoeg vir werk verklaar was.

Hulle enigste ander inkomste kom van kos wat hulle by markte verkoop.

“Mens lees en hoor baie van mense wat deur ‘engele op aarde’ gehelp word en dis al wat ons soek, net iemand wat ons kan help.

“Ons soek regtig net hulp sodat Elsabe net weer haar lewe kan leef. Sodat sy net weer soos haarself kan voel en nie skaam kry oor hoe sy lyk nie.”

Vir meer inligting of indien jy belangstel op te help bel 079 757 7912.

Dit is hoe Elsabe Holtzhausen se breuk gegroei het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version