Local newsNews

KYK: Esmi die wonderwerk baba verlaat die Clinton hospitaal na 101 dae

Klein Esmi is gebore na net 25 weke en vier dae van swangerskap toe komplikasies met die swangerskap Esmi se ma, Ester Boucher, se lewe in gevaar gestel het. ’n Noodbevalling was die enigste uitweg.

OP 4 Junie om ongeveer 2.30nm verlaat ’n klein wonderwerkie, Esmi Boucher, die Clinton Hospitaal na ’n lang verblyf in die neonatale saal.

Klein Esmi is gebore na net 25 weke en vier dae van swangerskap toe komplikasies met die swangerskap Esmi se ma, Ester Boucher, se lewe in gevaar gestel het. ’n Noodbevalling was die enigste uitweg.
Esmi is op 23 Februarie gebore en het slegs 590g geweeg. Volgens haar pa, Michael Boucher, kon Esmi op daardie stadium in sy een hand pas. Na 101 dae is sy ontslaan met ’n gewig van 2.355kg – byna vyf keer haar geboortegewig.



Groot geluk na hartseer

Die Bouchers se pad, voor hulle uiteindelik hulle eie kind kon huis toe neem, was lank en gevul met hartseer wat uiteindelik tot die groot geluk van 4 Junie gekom het.
Die paar is vanjaar 13 jaar getroud en van die begin af het hulle probeer om ’n gesin te begin. Dit het egter vir lank gelyk of dit hulle nie beskore was nie. Volgens hulle was daar geen rede hoekom dit so moeilik vir hulle moes gewees het nie en hulle het begin wonder wat hulle verkeerd doen.
“Na agt of nege jaar het ons begin aanvaar dat dit nie vir ons bestem was nie,” sê Michael. Na 10 jaar en 10 maande van getroude lewe kom ongelooflike nuus in 2017 na die Bouchers. Ester vind uit sy is reeds 16 weke swanger toe sy haar genikoloog, Dr Gerhard van der Westhuizen, besoek. Hier het die lang paadjie saam met Dr Van der Westhuizen begin, iets wat die twee ouers baie dankbaar voor is.

KYK: 


Eerste terugslag

Dinge het egter nie verloop soos dit moet nie. Ester is in die hospitaal opgeneem en met pre-eclampsia en HELLP-sindroom gediagnoseer. Die komplikasies is gekenmerk deur ’n hoë bloedruk- en lae bloedplaaitjie-telling. Op 3 Junie is besluit om ’n noodkeisersnit te doen.
Mieke Boucher is op die ouderdom van 26 weke gebore en sy het 700g geweeg.
Die geveg rondom Mieke se lewe het onmiddellik begin en sy is op ’n osselator geplaas. Ten spyte van die beste werk van die neonatalesaal personeel en Dr Klaas Mnisi, ’n neonatoloog, kon klein Mieke se lewe nie gered word nie.
Mieke is om 10.10vm op 4 Junie 2017 oorlede. Presies 21 uur na die keiser was die Boucher’s hospitaal toe geroep om afskeid te neem.
“Jy voel leeg,” vertel Ester. “Jy is eerstens kwaad,” sê Michael verder. “Kwaad vir die staf, kwaad vir jouself en kwaad vir die Here.”

KYK:


Michael sê egter dat hierdie emosies slegs ’n paar ure gehou het toe hulle besef het die dokters het alles in hulle vermoë gedoen het om Mieke se lewe te red.
“Hulle het ons eerste geplaas,” sê Ester. Michael, wat ’n pastorale agtergrond het, sê dat hy in die verlede al ander mense se kinders moes begrawe, maar nooit gedink dat hulle dit self sou moes doen nie.
Die Bouchers het egter na hulle hartseer ervarings besluit om die verlies van hulle kind deel van hulle bediening te maak om ander mense te help wat deur dieselfde gaan.
“Ons het dit gedoen omdat ons geweet het ons sal haar weer eendag in die hemel sien en wil hê sy moet trots wees op ons.”
Hulle het ook ’n ruk na die dood van Mieke ’n brief geskryf om dankie te sê vir die dokters wat so ’n bydrae gelewer het tot hulle lewe en vir alles wat hulle gedoen het.
“Hulle was verbaas dat ons nie eerder kwaad was nie,” sê Michael en vertel dat hulle saam met die dokters gehuil het oor Mieke.
“Daardie dag het Dr Van der Westhuizen vir my gesê ek is nou jou dokter en ons sal die paadjie saam stap,” sê Ester.

Probeer weer
Vroeg in 2018 het hulle uitgevind Ester is weer swanger. Die ou hartseer gevoelens was ongelukkig weer opgeroep na slegs agt weke in die swangerskap. Op Mei 17 het Ester ’n miskraam gehad.
Hierdie keer was hulle egter nie teneergedruk nie.
“My woorde aan die dokter was dadelik ‘wanneer kan ons weer probeer’,” sê Ester.
Toe kom die groot geluk in September 2018, skoon onverwags toe Ester uitvind sy is swanger met Esmi.
Nog meer ongelooflik was dat die bevallingsdatum vir Esmi 4 Junie sou wees.
“Dit was vir ons ’n teken dat die Here gesê het hy gee vir ons Esmi as geskenk vir Mieke wat ons op 4 Junie 2017 verloor het,” sê Michael.
Ester het egter dieselfde simptome as met Mieke se swangerskap gewys. Sy is weer gediagnoseer met pre-eclampsia en HELLP-sindroom. Met haar lewe in gevaar was daar besluit om ’n noodkeiser te doen.
Esmi is op 23 Februarie op 25 weke gebore.

Vol sirkel
Volgens die Bouchers, het dieselfde vrese by hulle opgekom. Hulle was bang om Esmi ook te verloor.
“Ek was vreesbevange vir 10.10vm om te kom,” sê Ester.
Maar die twee het besluit: “Die keer kom sy huis toe.” Hulle het weer na dieselfde hospitaal gegaan want hulle wou ’n paadjie stap saam met die dokters wat hulle so goed behandel het.
Esmi se lang verblyf in die Clinton neonatale saal het begin.
Esmi is kort na haar geboorte ook op ’n ossilator geplaas, maar binne 24 uur het sy al die tekens van sterker word getoon. Die laaste bedjie wat Esmi in was, was langs Mieke se ou bedjie en vir die Bouchers was dit ’n teken dat sy nie dieselfde sou ondergaan as Mieke nie, maar dat haar suster oor haar waak.
Vir 101 dae het die susters en dokters haar versorg en Esmi het by die dag sterker geword.
“Dit was wonderlik vir my as die suster wat die dag na Esmi sou kyk haarself voorgestel het as Esmi se mamma vir die dag,” sê Ester. “Ek het geweet hulle sal net so mooi na haar kyk as wat haar mamma sou.”
Op 3 Junie kry die Bouchers die nuus waarna hulle vir so lank na uitgesien het. Esmi sou môre huis toe kom.
“Daar was ’n bonatuurlike kalmte gewees,” vertel hulle. “Ons kon nie wag om haar by ons te hê nie.”
Die nuus het gekom met baie trane en vreugde. Op 4 Junie, die dag van die oorspronklike bevallingsdatum vir Esmi, en op die herdenking van Mieke se afskeid, het Esmi die eerste keer die buitelig sien.
“Die groot vreugde vir ons is dat ons nou werklik gaan ouers wees,” sê Ester. “Ons gaan nou ’n gesin wees.”
Esmi is, soos die betekenis van haar naam, ’n geskenk van God.
Michael en Ester wil die dokters en personeel by Clinton bedank, maar voel dat ’n blote dankie nooit genoeg sal wees nie.


“Hulle het soveel meer vir ons gedoen as wat ons verwag het,” sê Michael.
“Hulle was altyd daar vir ons. Hulle was uit die hande van God gestuur om vir ons iets te leer en ek hoop deur hulle ervaring met Esmi het hulle ook iets geleer.”

Related Articles

Back to top button