Local newsNewsSport

Venter verteenwoordig Alberton op internationale vlak

Dameon Venter verteenwoordig die Junior Springbokke by die o-20 Wêreldbeker.

DIE feit dat Alberton daaraan gewoond is om Springbokke uit sy geledere te lewer, is geen geheim nie.

Hierdie keer maak Dameon Venter sy merk op internasionale vlak wanneer hy in die middel van die skrum in sy groen en goud sak.

Venter vorm deel van die Junior Springbokke wat reeds in Argentinië aangekom het om aan die o-20 Wêreldbeker deel te neem.

Hy is ’n oud-leerling van Laerskole Randhart en Orion, asook jare lange lid van die Alberton Junior Rugbyklub.

Venter is tans ’n gekontrakteerde speler by die Xerox Goue Leeus. Hy is vroeër vanjaar aangewys as die Xerox Goue Leeus se o-19 Speler van die Jaar, voordat hy gekies is om by die Suid-Afrikaanse Rugby Akademie in Stellenbosch sy staal saam met die beste junior rugbyspelers in die land te wys.

Venter het sedert die 2017 Cravenweek, waarin die Goue Leeus die nie-amptelike eindstryd teen die jong Sharks by St Stithians in Johannesburg gewen het, homself daarop toegespits om hom nie net op die rugbyveld nie, maar ook in die klaskamer, uit te leef.

Die Junior Springbokke se haker, Dameon Venter, van Alberton. Die foto is geneem tydens sy Junior Springbok-debuut teen Georgië. Foto verskaf.

Hy het die IEB-matriekeksamen met ’n string onderskeidings geslaag voordat hy by die Witwatersrand Universiteit aan ’n BCom graad begin studeer het. Hy studeer voltyds en sluit hom ook by die Xerox Goue Leeus aan.

Hy het in 2018 goeie rekenskap van homself in die laaste o-19 Curriebekerkompetisie gegee en telkemale gewys waarom hy gereken word as een van die voorste junior hakers in die land. Die Xerox Goue Leeus het die halfeindstryd in die kompetisie gehaal.

Venter het einde Maart vanjaar sy debuut as Junior Springbok in die plaaslike internasionale reeks teen Georgië gemaak, wat in die Wes-Kaap plaasgevind het.

Hy, wat onder spanmaats bekend staan as die Ratel, het die span verder in die reeks verteenwoordig teen die jong Argentyne. ’n Maand later het hy Suid-Afrika se ‘Baby Boks’ in Brittanje verteenwoordig, waar hulle swaarde gekruis het met Engeland in Birmingham, asook met Wallis in Cardiff.

Venter het die landsvlag hoog laat wapper teen die sterk span van Wallis, wat derde in vanjaar se o-20 Ses Nasies toernooi geëndig het, toe hy van die plaasvervangersbank af, net na rustyd op die veld gestuur is met die duidelike instruksie om die Bokkies te help om die 7-24 agterstand te help uitwis.

Kort daarna, met Venter in die middel van die skrum, het die Junior Bokke ’n strafdrie vanuit ’n skrum aangeteken. Nie lank daarna nie, na ’n hele rits fases waarin hy telkens deel van die spel was, het Venter naby die hoekvlag vir sy eerste drie in die groen en goud oorgeval.

Dit het aan die Bokkies ’n magtige terugvegpoging besorg. Die Junior Springbokke het uiteindelik daarin geslaag om Wallis met een punt met ’n telling van 34-33 op Cardif te klop.

Die Xerox Goue Leeus se o-19 Speler van die Jaar, Damoen Venter, saam met Prince Nkabinde, Agterspeler van die Jaar. Foto verskaf.

Venter beskryf daardie oomblik as die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan sover.

Die o-20 Junior Springbokke ding mee om die Junior Wêreldbeker in Rosario in Agentinië. Hulle sal kragte meet in die poelwedstryde teen Skotland (4 Junie), Georgië (8 Junie) en Nieu-Seeland (12 Junie), voordat die halfeindstryd en eindstryd op onderskeidelik 17 Junie en 22 Junie sal plaasvind.

Related Articles

Back to top button