Eden Park se storieverteller

Hy was alombekend vir sy swart sakkie met sy kamera wat hy saam met hom dra - op soek na Eden Park se stories.

SAUL Tholoe, alombekend as Oom Saul, het na 15 jaar se diens as joernalis by die Alberton RECORD afgetree.

Oom Saul is op 11 Julie 1951 in Kroonstad gebore waar hy grootgeword en skool gegaan het. Reeds toe het Oom Saul se liefde vir skryf begin kop uitsteek.

Sy destydse taal onderwyser het vir leerders, wat belangstelling in joernalistiek getoon het, ekstra take gegee om berigte te skryf en in te dien oor al die gebeurtenisse wat hulle in hul daaglikse lewe teëkom.

“Lees en skryf is my passion,” sê Oom Saul oor hoekom hy begin skryf het.

Tydens hierdie tydperk het Saul se ouma, Mimi Borman, ’n groot bydrae tot wie hy is gemaak. Saul is baie dankbaar vir die voorbeeld wat sy vir hom was.

In 1972 verhuis Saul na Alberton en begin werk by Ferrovorm. Dit is tydens sy werk by dié maatskappy waar hy sy vrou Betty ontmoet het. Hulle het saam by die maatskappy gewerk en ’n jaar later, in 1976, is hulle getroud.

Later daardie jaar verhuis hulle na Eden Park wat in 1976 gestig is. Hulle trek in by hul huis wat die heel eerste huis in Abraham Straat was.

“In daardie dae het Eden Park net uit drie strate bestaan,” vertel Oom Saul.

Saul het later by Lombaard’s Transport in Wadeville gaan werk.

Oom Saul se paadjie met die Alberton RECORD het begin met briewe wat hy aan die koerant gestuur het oor die gebeure in Eden Park. Die briewe het gehandel oor die gebeurtenisse by skole asook dinge wat met die gemeenskap van Eden Park gebeur. In 2003 het hy die destydse redakteur van die RECORD, Marietjie Tame, kom sien en sy dienste as vryskutjoernalis vir die koerant aangebied.

“Ek het gevra vir net twee weke om te kan bewys wat ek kan doen,” sê Saul.

“Hulle het my sommer na die eerste week gevra om aan te hou met my werk.”

Van daardie punt verder skryf Oom Saul vir die Alberton RECORD en word hy alombekend in Eden Park vir sy swart sakkie wat hy saam met hom dra. Hierdie sakkie, wat sy kamera bevat het, het deel van Saul se beeld in die gemeenskap geword.

Later het die Alberton RECORD ’n aparte bladsy vir Saul gegee wat as die Eden Park Rekord bekendgestaan het. Hierdie bladsy het al die nuus van die Eden Park gemeenskap bevat maar is later in die Alberton Rekord terug opgeneem.

Vir Oom Saul was dit baie belangrik dat die koerant vir almal moet wees.

“Selfs al kan hulle nie lees nie moet hulle die mense se gesigte kan herken, want dit bring vreugde vir almal.”

Oom Saul het diep spore in die gemeenskap van Eden Park getrap. Sy liefde, nie net vir skryf nie, maar ook vir mense, het hom in verbinding met baie mense gebring en hy het op so ’n manier ’n effek op baie mense se lewens gehad.

“Ek is baie dankbaar vir die Alberton RECORD dat hulle vir my die kans gegee het om soveel wonderlike mense te ontmoet,” sê Oom Saul met ’n glimlag.

“Baie dankie vir al die skoolhoofde en pastore van Eden Park. Dankie dat julle my altyd gehelp het.”

Van die RECORD aan oom Saul: “Ons groet meer as net ’n kollega. Ons groet ’n vriend. Ons gaan jou Vrydagoggend-kuiers mis. Oom Saul, mag jy vele geseënde jare in jou aftrede geniet.”

READ:

Man brutally killed in Petersen Street, Eden Park

The pride of Eden Park Secondary

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version