Local newsNews

Topverkoper kom uit Albertonner se pen

Hierdie boek is dalk net daardie teken van hoop waarna jy al so lank smag.

HYKIE Berg het op 16 Augustus ‘n boekvrystelling vir sy boek, My Storie Van Hoop, wat tans die vierde topverkoper op die Afrikaanse lys is, gehad.

Hy is baie dankbaar dat die boek so ’n sukses is, en sê: “Dankie aan almal wat my ondersteun. Sonder julle sou ek nie veel kon bereik nie. God gebruik ons almal op ’n unieke manier.”

Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor Daniella Day, skryfster van die boek Blou Trane (wat ook oor dwelmmiskbruik handel), wat gehelp het om sy boek te verwerk en vertaal. “Jy het ‘n ongelooflike taak verrig,” sê hy.

Daniella Day (28), wat eintlik net ’n skuilnaam is (sy wil graag anoniem bly), kom uit Alberton bodem.

Sy is tans besig om verder as onderwyseres te studeer en haarself beter te kwalifiseer. Daniella is gelukkig getroud en die ma van twee kinders en sê hulle is haar lewe.

Sy het self met dwelms in die verlede gestruikel, maar toe sy eindelik na ’n rehabilitasiesentrum toe gestuur is, het sy dit gebruik as ’n leerervaring om haar boek te skryf. Dié is ’n 197-bladsy dokumentêre-fiksie wat die leser ’n skokkende insig in die lewe van ’n junkie sal gee.

Terug by Hykie

Hykie is op 2 Mei 1978 in Pretoria gebore en het in 1996 by die Hoërskool Die Wilgers gematrikuleer. Dit is by hierdie skool waar sy verhaal met dwelms, waaroor hy in sy boek skryf, begin het. Hy het reeds in Graad Agt met dwelms begin eksperimenteer en was op 19 ’n volslae heroïenverslaafde.

Gelukkig is hy na ’n rehabilitasiesentrum toe en hierna het Hykie ’n diploma in drama by die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy maak toe later sy TV-debuut in die jeugreeks The Res (2003), gevolg deur ‘n hoofrol in die drama Plek van die Vleisvreters (2004). In 2007 verskyn hy in sy eerste rolprent, Ouma se Slim Kind.

OUTOBIOGRAFIESE SELF-HELP BOEK: My Storie Van Hoop is ‘n Afrikaanse topverkoper.

Hykie het toe sommer in talle Afrikaanse rolprente gespeel. In 2011 neem hy aan die realiteitskompetisie Survivor South Africa deel en wen die reeks.

Vandag is Hykie gelukkig getroud met die liefde van sy lewe, Melissa Berg. Hy is ’n suksesvolle akteur, besigheidsman en ook nou ’n skrywer.

My Storie Van Hoop is ’n outobiografie/selfhelp boek wat Hykie se lewensverhaal en struikeling met dwelms vertel, asook 12 stappe oor hoe om skoon van dwelms te bly. Sy doel met die boek is om mense te help om hulself te vergewe, te besef alle mense maak foute en om hul selfwaarde te vind.

Die boekvrystelling het in Hyde Park plaasgevind en was ’n intieme byeenkoms met sowat 80 van sy naaste vriende en familie wat dit kom ondersteun het. Hier het Hykie oor dwelmmisbruik gepraat en hoekom dit so populêr is. Hy het persoonlike vrae beantwoord van die wat gevra het en sodoende het hy die lesers gehelp om persoonlik te groei en verbeter. Hykie sê die boek is bedoel vir enigeiemand wat hulself wil verbeter as mens, maar net as hulle bereid is om te verander.

Die boek kan by PNA bestel word. Om ’n kopie van My Storie Van Hoop te koop, besoek Exclusive Books of Bargain Books of dit kan aanlyn op verskeie webtuistes gekoop word.

*Hykie besoek ook op 18 November Alberton wanneer hy as gasspreker by Ligstad se damestee sal optree.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button