Ouers maak harte oop oor Cora-Lee

“Wat as ma aan ’n engel geboorte geskenk het?”

“MY kind is weg en ons weet nog nie wat is die oorsaak nie,” was die hartverskeurende woorde van Aileen Jansen van Vuuren.

Haar dogter, Cora-Lee (16), is op Sondag, 12 Maart, in haar slaap dood. Volgens dié ouers, Lucas en Aileen, het Cora-Lee se 13 weke Toy Pom hondjie vroeg Sondagoggend in die vistank geval en wou hulle toe vir Cora-Lee gaan wys. “Sy’t gelê soos wat sy altyd sal lê, ons het na haar geroep en toe ons aan haar vat was sy al koud en haar hande was styf. Ons het mal gegaan en die nodige mense gebel om uit te kom. Teen 07:25 was ons huis vol mense,” het Lucas en Aileen vertel.

SEER HARTE: Kiana Jansen van Vuuren saam met haar ma, Aileen. Kiana is Cora-Lee se jongste sussie.

Lucas het gesê dat sy tussen 21:00 en 22:00 die vorige aand gaan slaap het en dat daar niks fout was nie. “Sy was haarself, ‘bubbly’ soos altyd.” Cora-Lee het die dag voor haar dood ’n hokkiewedstryd saam met Hoërskool Marais Viljoen se tweedespan gespeel en sy het wel haar knieg seergemaak. “Sy het by die huis gekom en gesê dat sy haar knieg seergemaak het, maar in dieselfde sin ook gesê dat sy nou weer sal terug klim op die hokkieveld en weer speel,” het Aileen gesê.

PRAGTIG: Hierdie is wat haar hokkiespan by die skool vir haar gedoen het.

Die ouers wag nog om te hoor wat die oorsaak van hul dogter se dood was. “Volgens die nadoodse verslag, wat Dr Patricia J Klepp gedoen het, was alles in Cora-Lee se liggaam 100 persent normaal en dui niks aan as die oorsaak van haar dood nie. Patricia het ook monsters van haar liggaam gevat en weggestuur om te kyk vir siektes. Cora-Lee se bloedtoetse is skoon, so daar was geen medikasie, dwelms of alkhol in haar bloed nie,” het Aileen gesê.

DIS LEEG: Die skoolbaadjie van Cora-Lee hang nou net so in haar kamer.

Aileen het die RECORD vertel dat sy aangaan terwille van haar ander kinders. “Ek kan nie bekostig om te gaan lê nie, al is dit hoe seer.” Hulle het gesê dat dit baie moeilik in die aande is as hulle by die huis kom en Cora-Lee daag nie op nie. Aileen het ook vertel dat dit vir haar erg was om Cora-Lee se boeke terug skool toe te neem.

“Blomme vir my ma,” is ’n opstel deur Cora-Lee wat onlangs na haar dood vir Aileen gegee is. Iets wat Aileen die meeste gaan mis is haar dogter se soentjies op haar wang in die oggende. “Ek gaan alles van haar mis, sy was die lewe van ons huis,” het Lucas gesê.

DIE OU DAE: Hier is ’n kinder-foto van Cora-Lee.

Cora-Lee het baie van musiek, swem, hokkie, die plaas en foto’s gehou. “Ek onthou ek’t op ’n tyd vir haar gesê dat die ‘selfies’ bietjie hand uit ruk omdat sy so baie geneem het. En vandag voel daai baie nie vir my genoeg nie,” het ’n gebroke Aileen gesê.

Read: Gemeenskap geskok oor skoolmeisie se dood

Een van haar susters, Tanya Smit, het gesê dat sy baie trots was op haar suster en voel dit nou of sy dit nie genoeg gesê het nie. “Ons vier sussies en een boetie was baie na aan mekaar,” het Tanya gesê.

Tydens die onderhoud met die REKORD het Aileen ook vertel dat een van haar dogters vir haar gesê het dat sy miskien geboorte aan ’n engel geskenk het omdat Cora-Lee so skielik en rustig weg is.

RUS SAG: Rus in vrede Cora-Lee Jansen van Vuuren.

Die Jansen van Vuuren gesin beplan om ’n hoekie in hul huis vir Cora-Lee te maak. “Sy het so uitgesien na ons vakansie in Desember waar ons op ’n bootreis gaan.” het hulle gesê.

Aileen het ook bygesê dat Cora-Lee voluit gelewe het, sy het altyd gelag en haar oë het altyd geblink. “Sy sal altyd in harte voortleef en dit is iets wat niemand van ’n mens kan wegneem nie. Ons wil ook net almal bedank vir die hulp en bystand die laaste ruk, elke SMS, elke oproep, elke bord kos, elke kuier en elke drukkie. Ons waardeer dit opreg en wil ook Hoërskool Marais Viljoen bedank vir die ondersteuning,” het hulle gesê.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version