VLU voorsitter het ‘n vol lewe

Susie deel haar geskiedenis met ons.

“OM deel van die VLU-familie te wees is ‘n besonderse voorreg want almal is daar vir mekaar en ’n mens leer onsettend baie – maak nie saak of jy oud of jonk is,” was die woorde van Susie du Plooy, Brackenhurst VLU-tak se voorsitter.

Susie is al van 2001 af betrokke by die VLU, eers as lid waarna sy 12 jaar lank dien as die sekretaresse, ’n jaar lank die tesourier en vir twee jaar die voorsitter. Volgens haar maak mens goeie vriendinne by die organisasie. “Die VLU gee ’n mens blootstelling en dit fokus op bemagtiging van vroue. Dit is lekker om nuwe dinge te leer maak en selfs om vir die kompetisies in te skryf en dan óf aanbevelings óf erkenning te kry.”

Susie het gesê dat jy partykeer dinge leer waarvan jy niks geweet het nie. Haar grootste uitdaging as voorsitter is om al haar lede gelukkig te hou. “Daar kom tye waar mens geen beheer het nie en nie almal gaan altyd gelukkig wees nie, maar ek is so ‘n mens wat werklik omgee en wil almal gelukkig hou.”

Een van Susie se doelwitte is om jong vroue te kry om by die VLU aan te sluit omdat iemand die organisasie verder moet vat. “Daar is soveel wat ons by die jonges kan leer, en wat hulle by ons kan leer. Dit is een dag in ’n maand waar jy bietjie kan afsluit en ontspan.”

Susie is op 24 Mei 1947 in Kroonstad gebore en het onderwys gestudeer. Sy het ook vir vier jaar as ’n onderwyser by Hoërskool Marais Viljoen gewerk en vir 18 jaar lank as die sekretaris van die Universiteit van Bloemfontein gewerk.

Susie en haar man, Boeta, ken mekaar al vir 55 jaar, en is al vir 47 jaar lank getroud.

“Ons was in dieselfde skool, hy was die seun met die mooiste blou oë wat ’n eerste rugbyspan speler was, en ek was die meisie wat dolverlief was op hom. Ons het van 1962 ‘gecase’.” Haar resep vir ’n goeie huwelik is om saam na God te groei in die vorm van ’n driehoek. “Hê respek vir mekaar, vergewe mekaar en maak seker daar is goeie kommunikasie,” het sy vertel.

In 1977 het die egpaar hul eersteling verwag. Hulle het ’n seun en ’n dogter en spog met vyf kleinkinders.

Boeta en Susie is baie betrokke in hul kleinkinders se lewens en bederf hulle graag. “Dit is ’n groot voorreg om ’n ouma te wees.” Susie is ook al vir ses jaar by die Bracken Blommeklub betrokke en sy en haar man is al vir 10 jaar lank lidmate van die Doxa Deo gemeente.

In haar vryetyd lees sy graag speurboeke van Irma Joubert en Deon Meyer. Haar lewensmotto is: “Behandel ander soos jy behandel wil word en gee liefde en jy sal liefde kry.”

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Exit mobile version