Sarah benodig nogsteeds ’n fiets

Sarah (62) wil haar droom waar maak.

SARAH Williams (62) het grootgeword op ’n plaas in Suikerbosrand en daar het sy haar passie vir fietsry ontdek. “My pa was ’n boer en glo dit of nie, maar hy het per fiets sy werk op die plaas gedoen,” het sy gesê.

Sarah gym daagliks en het onlangs ingeskryf vir die Telkom 947 Cycle Challenge wat op 20 November gaan plaasvind. Die kompetisie is om vir ’n doel te ry en 114 liefdadigheidsorganisasies neem daaraan deel. Dit is ook AMCARE se eerste jaar wat hulle gaan deelneem en hulle het 37 fietsryers waaronder Sarah die oudste vrou is. Die groep word gelei deur Sandra Human.

Al probleem is dat Sarah sukkel om genoeg geld in te samel vir ’n nuwe fiets en uitrusting omdat haar fiets gebreek het. Sy loop daagliks met ’n donasievorm rond om geld in te samel. “Ek het nog nooit so ’n geleentheid gekry nie en ek sit my alles in om ’n sukses daarvan te maak,” het sy gesê.

As kind het sy daagliks met haar fiets skooltoe gery en terug. Haar pa het ook ’n winkel gehad waar hulle fietse herstel het en is sy baie goed daarin. Sy is van kindsbeen af al baie aktief.

“As ek eers op my fiets is, is ek in ’n ander wêreld en dit voel asof ek hoër as die voëls vlieg. Ek gaan nie om te wen nie, maar wel om een van my doelwitte te bereik asook om ander senior burgers aan te moedig. Ek wil ook AMCARE help fondse insamel,” het Sarah bygevoeg. Volgens haar bestaan daar nie iets soos ‘ek kan nie’, want deur God is alles moontlik, maak nie saak hoe oud jy is nie.

Sy het drie kinders waarvan sy haar een dogter aan die dood afgestaan het en sy het een kleinkind. Sarah het aan die RECORD vertel dat sy nooit getrou het nie en dat sy nog altyd ’n enkellopende ma was. Drie jaar terug het ’n buurvrou vir haar vertel dat AMCARE opsoek is na mense en sy het dadelik haar CV ingestuur en gekwalifiseer vir die oop pos. “Ek leer minder bevoorregte mense om naaldwerk te doen en ek geniet elke oomblik daarvan. Ek geniet dit om ’n verskil in ander se lewens te maak en ook om hulle te leer wat ek al geleer het.”

In haar vrye tyd hekel en brei sy graag. Sy hou ook daarvan om in die tuin te werk. Kralewerk is een van haar stokperdjies.

Haar ma, Elsie Williams, is op die ouderdom van 73 oorlede, maar volgens Sarah sal haar ma altyd haar grootste inspirasie in die lewe bly. “Sy het 15 kinders grootgemaak en alles vir haarself gedoen. Sy was een sterk en standvastige vrou wat nooit gekla het nie,” het Sarah met ’n glimlag gesê.

As Sarah nie fietsry of werk nie, doen sy graag liefdadigheidswerk en is lief daarvoor om mense te help.

Die RECORD rig ’n versoek aan die gemeenskap om Sarah te ondersteun sodat sy ’n fiets,’n nuwe uitrusting en ander borge vir die kompetisie kan hê.

Vir meer inligting of om Sarah te help, skakel Sandra by 083 990 0212.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version