Local NewsNews

Suiderlig Voortrekkers trek oor die Drakensberg

Die geleentheid is deur meer as 200 hoërskoolleerders en volwassenes van oor die hele Suid-Afrika meegemaak.

AS deel van die Voortrekkerbeweging se 85ste bestaansjaar is daar op Sondag, 7 Augustus, ‘n simboliese ossewatrek oor die Drakensberge gehou, vanaf die Vrystaat na Kwazulu-Natal, ter herinnering aan ‘n gebeurtenis wat 179 jaar gelede plaasgevind het.

Die geleentheid is deur meer as 200 hoërskoolleerders en volwassenes van oor die hele Suid-Afrika meegemaak. Op Saterdag, 6 Augustus, het almal by Kerkenberg saamgekom, waar die vier kakebeenwaens voorberei is, die klippe op Kerkenberg geverf is, en ‘n monument by Retiefspas gebou is.

Kerkenberg was die plek waarvandaan die Retief-trek in November 1837 met 23 waens vertrek het, om ‘n beter heenkome in Natal te vind.

“Die doel van die simboliese trek was om te wys dat die Afrikanerkind van vandag nog net so ‘n deursettingsvermoë het soos ons voorvaders van ouds,” het Gerhard Gericke, Suiderlig kommandoleier, gesê.

”Ook dat hedendaagse Voortrekkerlede bereid is om positiewe landsburgers te wees deur die rigting wat hul inslaan en die spore wat hulle in die gemeenskap agterlaat – spore wat deur alle Suid-Afrikaners met oortuiging gevolg kan word.”

Gericke het verder vertel dat die trek in bibberende koue en stormsterkwinde Sondagoggend om ongeveer 07:00 by Retiefpas, in die Drakensberge, begin het.

“Almal is by ‘n wa of trek ingedeel en 10 lede van Suiderlig Voortrekkerkommando het ook die trek meegemaak,” het hy bygevoeg.

”Die waens het teen ongeveer 16:00, na ‘n 12km tog berg-af, by Drakensville vakansie-oord aangekom.

”Vier hippo-waterrollers is met die geleentheid aan vroue in die plaaslike gemeenskap geskenk. Hier is die vrouens verantwoordelik vir die verkryging van kos en water en die hippo-rollers sal hul taak baie vergemaklik.”

By Drakensville is daar ook ‘n monument onthul en is daar ook 45 bome op die terrein geplant, om die gebeurtenis te herdenk.

“Hoewel die lede van Suiderligkommando baie moeg en baie seer die tog klaargemaak het, was almal dit eens dat die Suid-Afrikaanse jeug die wil en deursettingsvermoë het om hul stempel in hierdie land op ‘n positiewe manier af te druk, so lank as wat volwassenes bereid is om goeie rolmodelle te wees,” het Gericke gesê. ”Suiderligkommando is trots op die spore wat hul getrap het en dat hulle deel kon wees van ‘n nuwe geskiedenis wat geskryf is.”

Suiderligkommando vergader elke Maandag, vanaf 17:00 tot 18:00, by die Laerskool Orion. Navrae kan gerig word aan Gerhard Gericke by 083 270 1630, of aan Michelle Viljoen by 083 632 3995.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button