Vyftig spesiale jare

Die Coopers deel hulle liefdesverhaal.

EERLIKHEID, respek en liefde is wat dié twee tortelduifies, Pat en Tommie Cooper, vir 50 jaar lank bymekaar gehou het. Hierdie egpaar het op 25 Junie hulle 50ste huweliksherdenking gevier.

Pat het ook op 21 Junie 70 jaar oud geword. Hulle is op 25 Junie in 1966 getroud nadat hulle vir baie lank bure was. “Ek kan onthou hoe ons baie by mekaar gespeel het, en hoe sy my later uitgekyk het as ek naweke, nadat ek by die weermag was, huistoe gekom het,” het die 72-jarige Tommie geskerts. Tommie ken sy Pat al vandat sy 11 jaar oud was.

Hulle het twee dogters, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders. “Hulle hou ons jonk en ek het hulle almal grootgemaak,” het Pat gesê. Sy het op die ouderdom van 50 by die Academy of Learning aangesluit, geleer hoe om rekenaargeletterd te wees en boonop ook vier onderskeidings behaal.

Tommie het ook aan die REKORD vertel dat hy sy vrou op 8 Junie amper verloor het nadat sy ’n hartaanval gekry het. “Sy was lank in die hospitaal en sterk nogsteeds aan,” het hy gesê.

Tommie is ook ’n ruk gelede met prostaatkanker gediagnoseer en het met groot opgewondenheid gesê dat sy telling verlede week 0.07 was.

Op die vraag oor hoe hulle konflik hanteer het, het Pat geantwoord en gesê dat sy altyd probeer vrede maak het.

Die trane het omtrent geloop toe dié twee mekaar moes beskryf. Vir Tommie is Pat sy alles en ’n sterk en standvastige vrou wat haar laaste kos vir mense sal gee. “Vir my is daar geen beter man, pa en oupa as Tommie nie. Hy sal alles vir sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders doen,” het Pat huilend gesê.

Hulle het die 50 jaar as asemrowend, moeilik, hartseer, vol geluk en liefde beskryf. “Dit is belangrik om geloof in ’n verhouding en in ’n mens se lewe te hê,” het die paartjie gesê.

Die Coopers se raad vir jonges is om altyd te besef dat ’n verhouding van twee kante af kom en dat dit twee vat om te dans.

In hulle vrye tyd boer Tommie met ’n verskeidenheid voëlsoorte en Pat bak graag. Hulle hou ook daarvan om saam huiswerk te doen en hulle besoek gereeld die vlooimark.

Pat het ook verder vertel dat sy Tommie geleer kook het en hulle wil graag nog na Shelley Beach toe gaan.

Na die kuiertjie is daar een ding wat in jou gedagtes bly – hierdie is een van die paartjies, wat mense wie nie in liefde glo nie, weer sal laat glo.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Exit mobile version