Paasfees met ’n verskil

Kinders vier Paasfees met ’n boodskap.

MET die viering van Paasfees was dit vir Ligstad belangrik dat kinders nie net die Paasfees boodskap aanhoor nie, maar dat hulle ’n aktiewe rol daarin speel om ook die boodskap uit te dra na ander.

Ter voorbereiding van die Paas-uitreik, het Ligstad se kinders fluks gewerk om Paasfees boodskappies aan paaseiers te heg, T-hemde met ’n opbouende vers is gedruk en traktaatjies wat die oorsprong en betekenis van Paasfees op ’n eenvoudige wyse uiteensit, is geskep. “Ons uitreik is afgeskop met ’n Paasdiens, gelei deur ds. Deon Louw van die NG Kerk Alberton-Wes,” het Daniel Viljoen, lid, gesê.

Oor die verloop van ’n paar dae het die Ligstad-kinders al die paaseiers, T-hemde en traktaatjies uitgedeel aan lede van die Alberton-Noord gemeenskap. “Dit het ons harte gevul met trots om ons kinders op hierdie wyse in aksie te sien. Die glimlaggies wat hulle op verbygangers se gesigte geplaas het was al te kosbaar.”

Namens die Ligstad-personeel en bestuur bedank hulle Laerskool Randhart vir die paaseiers wat hulle geskenk het, sowel as Spectrum Screenprint vir die druk van die T-hemde.

 

Exit mobile version