Damesklub vier 48 goue jare

Die Alberton Damesklub het onlangs hul 48ste verjaarsdag gevier.

ALBERTON Damesklub het omtrent hulle 48ste verjaarsdagvieringe op 10 Maart by die Alberton Aftree-Oord geniet.

Die tak is in 1968 gestig en bestaan uit 58 lede. Twee lede, Martie Marnewick en Maxie Hall, is vereer omdat hulle al vir 48 jaar lank by die klub betrokke is. Trix van der Walt, die voorsitter, het gesê dat die vroue van pure goud gemaak is. “Dankie dat julle nog jul plek in die samelewing volstaan.” Sy het ook gesê dat dit ’n groot voorreg is om al vir vier jaar lank die voorsitter te wees, en haar jare as voorsitter as stimulerende en opbouende jare beskryf.

Dawie Botma, bestuurder van dié oord, het ’n heildronk op die vroue ingestel en na hulle verwys as merkwaardige vroue. Hy het vertel dat die klub ’n klein dogtertjie was met die naam van DK (damesklub) wat tot ’n volwasse dame gegroei het.

Met Paasfees om die draai het die vroue ook met verskillende Paasfees-boodskappe weggestap. Ds Willie Badenhorst het hulle oor die begin van ’n nuwe lewe toegespreek.

Verder het die jong en talentvolle Lisa Katzke die lede met ou treffers vermaak. Sy het ’n stem van goud en haar musiek het iets by elkeen gelos. Lie Potgieter het ook in haar spreekbeurt die gehoor vertel van Miriam Holmes wat op 6 Mei by Hoërskool Dinamika gaan optree. Kaartjies kan by Lie aangekoop word. Skakel haar by 011 869 8199. Wylma Smalle het die bedankings gedoen.

Vir meer inligting oor die klub, skakel Trix by 083 449 5446, Dini Jansen by 082 552 4683 of Martie by 082 417 5426.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version