Damesoggend samel fondse in vir hospice

Dit wat baie as vanselfsprekend aanvaar, is iets waarvoor ander biddend pleit.

AARDE tyd is geleende tyd was die boodskap van hoop en inspirasie wat tydens Stepping Stone Hospice se damesoggend oorgedra is.

Die damesoggend, op 20 Februarie by die Alberton LewenSentrum, is gebore uit die hartseer en pyn wat Maritha Meaker en haar gesin deurgemaak het nadat hul 11-jarige dogter, Martelise, die stryd teen kanker verloor het.

In ’n kleurvolle saal het 300 dames byeengekom en R67 500 is ingesamel. Hierdie gelde sal aangewend word om ’n jeugeenheid vir jong pasiënte by Stepping Stone in Newmarket Park op te rig.

Daar was niemand beter om die boodskap van inspirasie oor te dra as Jana du Plessis, ondermeer motiveringspreker en Finesse se Inspirasievrou vir 2013 nie.

Jana, ’n gevierde atleet se lewe het oop voor haar gelê en sy het dit voluit geleef, maar kanker het drie keer aan haar deur kom klop en sy moes elke keer die prys daarvoor betaal. As atleet moes sy aanpas nadat sy haar been weens kanker verloor het. Sy is ’n tweede en derde keer met kanker gediagnoseer en in hierdie tyd moes sy en haar man die baie moeilike besluit neem: Gaan sy mamma wees vir haar twee kinders, chemoterapie deurmaak en so haar ongebore baba prysgee, of gaan sy deurgaan met ’n swangerskap en dan dalk die stryd teen kanker verloor.

Haar boodskap, met al die op en af, pynlike besluite en gevolge, seer en trane was nietemin een van pure inspirasie. ’n Vrou wat haar pad hand-aan-hand met haar Skepper stap en elkeen teenwoordig laat besef het, aarde tyd is geleende tyd en dat dit wat baie as vanselfsprekend aanvaar, iets is waarvoor ander biddend pleit.

Die oggend se gaskunstenaar Dewald Wasserfall (’n oud-Albertonner) het ook meeval by die dames gevind.

Stepping Stone Hospice wil Maritha met hierdie boodskap laat: “Maritha, die hospice bring vandag eer aan jou en bedank jou vir jou moedigheid, jou ondersteuning en toegewydheid aan Stepping Stone, ten spyte van jou eie rou.”

*Stepping Stone Hospice and Care Services is ’n nie-winsgewende organisasie. Vir meer inligting kontak 087 997 0222 of besoek hul webwerf by www.steppingstonehospice.co.za

Exit mobile version