Xanilee bekoor beoordelaars

Xanilee Hammond sing al vandat sy 13 jaar oud is.

ALBERTON se eie talentvolle sangeres, Xanilee Hammond, is op Sondag, 14 Februarie, as een van die finaliste van The Voice SA gekies.

Die manier waarop sy ‘Journey’ se liedjie, ‘Don’t Stop Believing’ gesing het, het die aandag van bekende Afrikaanse sanger en The Voice beoordelaar, Bobby van Jaarsveld, gesteel.

Mense se aanmoediging het haar oortuig om aan die kompetisie deel te neem. “Ek onthou ’n dag voor die oudisies vir Johannesburg het ek vir my kêrel gesê dat ek niks het om te verloor nie. Ek het gegaan en is toe deur na die ‘blind’ oudisies wat nou op TV verskyn het,” het Xanilee verduidelik. By die eerste oudisies was nie een van die vier bekende beoordelaars betrokke nie so sy het nie geweet wie haar gaan kies nie. Tydens haar ‘blind’ optrede het die beoordelaars haar behoorlik laat stres toe hulle byna aan die einde van haar liedjie eers omgedraai het. Dit was Bobby wat opgespring het en na haar gehardloop het om haar in sy span te kry.

Op ’n vraag oor wat die beste raad wat sy tot dusver van Bobby ontvang het is, het sy met ’n glimlag gesê: “Own your space”. Hy het haar geleer om met emosie te sing. Vir Xanilee lê The Voice SA se ‘battles’ uitdunrondte nog voor.

Dié 20-jarige sanger het op die ouderdom van 13 haar stem gevind en op 16 besluit dat sing haar passie is. Sy was in Hoërskool Alberton tot en met graad nege. Daarna het sy oorgeskuif na The Campus Of Performing Arts in Kensington waar sy musiek studeer het. Almal in haar familie is geseënd met ’n musiektalent en haar ouers het ’n groot impak op haar musiekloopbaan.

“My pa sing, my ma speel dromme en my suster speel kitaar. Hulle motiveer my daagliks.” Haar eerste liedjie wat sy gesing het was Amazing Grace en dit tydens ’n kerkkompetisie. Xanilee skryf ook musiek oor dinge wat in haar lewe gebeur en die verskillende groeifases waardeur sy gaan. Dit is vir haar belangrik om altyd ’n boodskap in haar liedjies te los.

Sy was die hoofsanger van ’n ‘rock band’, ‘Defy Theory’ en was ook te sien in ’n musiekvideo wat deel was van ’n veldtog van jong kunstenaars in ‘Unite Against Xenophobia’ in 2015.

Verder is sy bekroon as die mees uitstaande student van die jaar in 2013 by The Campus of Performing Arts en wanneer sy nie musiek maak nie gee sy sanglesse in haar vrye tyd, doen ‘label’-werk en oefen gereeld.

Haar lewensmotto, ‘let it go’ speel ’n groot rol in haar lewe omdat dit haar deur moeilike omstandighede motiveer.

Later in dié The Voice SA-seisoen sal kykers vir hul gunsteling deelnemer kan stem en die REKORD sal lesers op die hoogte hou oor die proses. Kyk intussen op Sondae om 17:30 uit vir Xanilee op The Voice SA op M-Net-kanaal 101.

Lees meer:

Must watch in 2016 – The Voice is coming to SA

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version