Local newsNews

NG Gemeente Brackendal ontvang ’n nuwe leraar

Op die rype ouderdom van 80-jaar, het dominee Johan Botha, ’n afgetrede predikant van Bloemfontein, sy kleindogter as predikant bevestig.

WANNEER jy as afgetrede predikant die voorreg kan geniet om jou kleindogter as predikant te bevestig, kan mens sekerlik sê die paadjie het sy volle ronding geloop.

Op Sondag, 24 Januarie, is proponent Elana Greyling as dominee in die NG Gemeente Brackendal bevestig. Dit was vir haar oupa, dominee Johan Botha, ’n afgetrede predikant van Bloemfontein, ’n groot eer om op die rype ouderdom van 80-jaar sy kleindogter as predikant te kon bevestig. Die gemeente was baie opgewonde om te kon sien hoe dominee Elana na jare se studentwees in Bloemfontein en twee jaar se jeugwerk in Lydenburg, Brackendal se preekstoel bestyg.

Dominee Piet Botha, leraar van die gemeente, het op ’n baie spesiale wyse Elana se bevestiging met handoplegging behartig en spesiale vermelding gemaak van wyle dominee Robert Rotteveel wat so ’n lang pad met die gemeente gestap het. Sy is die eerste nuwe leraar wat sedert sy bevestiging ongeveer 30 jaar gelede, weer in die gemeente bevestig is. Dominee Willem Strauss, die voorsitter van die NG Kerk Ring van Alberton het ook ’n baie besondere verwelkoming aan dominee Elana gerig.

Die NG Gemeente Brackendal wens dominee Elana ’n wonderlike bediening toe en glo dat sy met daardie breë glimlag van haar nog diep spore in die gemeente en in die gemeenskap gaan trap en vele harte gaan aanraak vir Jesus.

Also Read:

Kom geniet ’n potjie gholf

Related Articles

Back to top button