LettersLocal newsNewsOpinion

Alberton groet ’n stryder

Alberton groet ’n stryder

DAAR is met leedwese verneem dat Hennie Jansen van Niekerk op die ouderdom van 69 jaar, Maandag, 18 Januarie, na ’n kort siekbed gesterf het. Hy het geen bekendstelling nodig gehad in Alberton nie. Daar is nie ’n inwoner van Alberton wat hom nie sou eien as die man in die groen motor wat nooit ’n geleentheid laat verbygaan het om te getuig, met die Woord of gebed te bedien en om siekes in hospitale en bejaardes in ouetehuise te besoek nie.

Hy het weekliks die aftree-oord in Moffatview besoek sowel as Ligstad en was ’n bekende in die gange van die plaaslike hospitale waar hy bejaardes en siekes met die Woord en gebed bedien het. Hennie het nie ’n geleentheid laat verbygaan om sy gemeenskap te bedien nie en self het hy nooit iets terug gevra nie. Sy familie getuig dat hy vir hulle ’n voorbeeld was in die manier hoe hy sy Hemelse Vader met woord en gebed gedien het. Hulle noem verder dat sy afsterwe ’n leemte laat in sy familie en vriende se harte. Elke inwoner van Alberton wat deur Hennie se mooi hart geraak is, eggo dié woorde van sy familie.

Hennie se roudiens was Vrydag, 22 Januarie, vanuit die Calvary Sanctuary Volle Evangelie Kerk in Vyfdelaan, Alberton- Noord gelei deur Pastoor George Pretorius. Alle dank aan elke instansie en individu wat die roudiens spesiaal gemaak het met elkeen se unieke bydra.

In die woorde van sy familie: “Hennie het die wedloop voltooi. Mag hy veilig in sy Heer en Meester se arms rus.”

Alida Jooste van Ligstad

Related Articles

Back to top button