So word Alberton se aand van die SA rugbylegendes steeds onthou

Daar sal in Alberton rugbykringe nog lank gepraat word van die aand van die rugbylegendes, op 30 November 2013.

In rugbykringe word gereeld gepraat van die dag (25 Augustus, 1962) wat Mannetjies Roux sy drie in Bloemfontein, met die Springbokke se briljante 34-14 sege oor die Britse Leeus gedruk het. So sal daar in Alberton rugbykringe ook nog lank gepraat word van die aand van die rugbylegendes, op 30 November 2013, presies twee jaar gelede. Op daardie aand is goue oomblikke in Suid-Afrikaanse rugby weer herleef, by wyse van die legendes se eie stories agter die stories en statistiek wat in die rugbyboeke opgeteken is. Springbokrugby sal nooit weer ‘n jaar soos 1995 ken nie, spesifiek 24 Junie 1995, toe Francois Pienaar saam met wyle President Nelson Mandela die Rugby Wêreldbeker gelig het. Wêreldbeker 1995 se grotes, soos Japie Mulder, Pieter Hendriks, James Small en Gysie Pienar as agterlynafrigter, was al vier ‘n integrale deel van daardie geskiedkundige oomblik. Elkeen se eie herinneringe daarvan is op 30 November 2013 met Alberton gedeel. Hoe Japie Mulder vir Jonah Lomu in die finaal gestuit het; Pieter Hendriks se legendariese drie in die openingsoorwinning van 27-18 oor Australië;, die verdedigende wêreldbekerkampioen, was hoendervleis-oomblikke om weer aan te hoor. So ook James Small op nommer 14 se onontbeerlike rol, en agterlynafrigter Gysie Pienaar se ongelooflike vertelling van hoe Joel Stransky die Vrydagmiddag voor die finaal, ten aanskoue van al die All Blacks, tydens ‘n oefensessie met sy laaste oefenskop die identiese skop op presies dieselfde plek waar hy die wêreldbeker vir sy land ‘n dag later met 15-12 sou help wen, deur die pale gejaag het. Maar dit was nog nie die einde van die grootse aand nie. Rekordhouer Naas Botha, die groot Springbok uit die 80s Ray Mordt, die oudste Springbok op 37 jaar en 34 dae in ‘n toets, Johan Ackerman, het die bevooregtes om daardie aand by te woon, vasgevang met hul aangrypende stories van grepe uit hul roemryke rugbyloopbane. Ook Lukas van Biljon, met 13 toetse en sterk Alberton verbintenisse, was daar. As deel van daardie aand in ‘n rugbyhemel of rugbyparadys, as daar so iets sou wees, was top skeidsregter André Watson se aangrypende stories agter die skerms en as nommer 31 op die veld in twee Wêreldbeker-eindstryd oomblikke sal ‘n kosbare kleinood bly wat mens lewenslank saamdra. ‘n Lourierkrans van groot dank en gelukwense aan Andy Turner, wat die afgelope twee jaar sedert daardie aand deur groot beproewing gegaan het, maar aangesien daardie aand sy “breinkind” was, is hy daarvoor ‘n legende in eie reg. Hy is nou werksaam in Limpopo gedurende die week en word sterkte toegewens.

Exit mobile version